Nuus 08:00
BULLETIN 6 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voorsitter van die Verkiesingskommissie sê die bepalende kenmerk van die verkiesing is onafhanklike kandidate
# Die Britse premier erken daar is werk om te doen ná die rampspoedige verkiesingsuitslae
# En motorsport: Lando Norris wen uiteindelik sy eerste F1-wedren
# Die Verkiesingskommissie se voorsitter, Mosotho Moepya, sê die komende algemene verkiesing word gekenmerk deur die bekendstelling van onafhanklike kandidate. Elf onafhanklike kandidate neem op 29 Mei aan die verkiesing deel. Moepya was gister deel van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke se Nasionale Dag van Gebed in Soweto. Hy sê die OVK het ‘n uitslagstelsel ontwerp wat talle integriteitstoetse sal ondergaan om seker te maak die verkiesing kan nooit gesteel word nie.
# Oud-president Thabo Mbeki verwelkom die moontlikheid van ‘n kommissie van ondersoek na politieke inmenging in die Nasionale Vervolgingsgesag oor apartheid-era-misdade. Mbeki het tydens ‘n ANC-saamtrek in Mabopane, Pretoria, die vertroue uitgespreek dat hy vrygespreek sal word van enige wanoptrede. Hy beklemtoon hy kan nie verantwoordelik gehou word vir die NVG se mislukking met die vervolging van apartheid-era-misdade nie, soos aanbeveel deur die Waarheids- en Versoeningskommissie:
# Die UDM in die Oos-Kaap doen ʼn beroep op die provinsiale Vervoerdepartement om verantwoording te doen vir hul versuim om leerdervervoer-operateurs te betaal. Operateurs met departementele kontrakte het verlede week gestaak en sê hulle is in Januarie laas betaal. ʼn UDM-woordvoerder, Bulelani Bobotyane, sê hulle wil ʼn gedetailleerde finansiële verslag hê van die 725-miljoen-rand wat toegewys is vir die 2024/2025-boekjaar se leerdervervoer-program:
# Die Britse premier Rishi Sunak sê hy kan vordering maak met kiesers voor ‘n algemene verkiesing ná die Konserwatiewes se swak vertoning in die plaaslike verkiesing. Nadat die finale stemme gister getel is, het die Tories beheer verloor oor tien rade en meer as 470 raadsetels. Sunak sê die land het nie meer politiekery nodig nie, eerder optrede. Hy sê die party sal saamstaan om aan die Britse kiesers te bewys die party werk vir hulle.
# Motorsport: Lando Norris van McLaren het die eerste oorwinning van sy Formule Een-loopbaan by die Miami Grand Prix gebuit. Die Brit het met 25 rondtes om te gaan die voortou geneem, ná ʼn kuip-stop onder leiding van die veiligheidsmotor terwyl die ander reeds gestop het. Max Verstappen van Red Bull was tweede en Charles Leclerc van Ferrari derde. Die 24-jarige Norris wat in sy sesde Formule Een-seisoen die meeste podiumplekke sonder ʼn oorwinning behaal het, sê hy is gelukkig om uiteindelik eerste te wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-840-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-308-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….