Nuus 18:00
BULLETIN 3 Mei 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit vra mediese instellings om te verenig teen die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering
# Motorsport: Ferrari is gretig om die dienste van die legendariese ontwerper Adrian Newey te bekom
# En, Paul Mashatile vra geloofsgemeenskappe om te bid vir ‘n vreedsame verkiesing
# Die vakbond Solidariteit vra mediese instellings en beroepslui om te verenig teen die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering. Die vakbond waarsku die NGV kan verwoestende gevolge hê vir die mediese bedryf én Suid-Afrikaners se gesondheid. Solidariteit sê dis ongrondwetlik en onvolhoubaar. President Cyril Ramaphosa moet dit nog onderteken. Dirk Hermann van Solidariteit sê planne is beraam om die wetsontwerp se grondwetlikheid in die hof te betwis, en hulle nooi lede van die mediese bedryf om by hul pogings aan te sluit.
# Die lugrederye Lift en Airlink gaan die binnelandse Lugdienslisensieraad van Suid-Afrika versoek om FlySafair se bedryfslisensie op te skort. Die versoek volg op ‘n klagte waarin beweer is FlySafair oortree binnelandse eienaarskap-regulasies. Die beweerde nie-nakoming spruit uit veranderings in sy eienaarskapstruktuur, wat kommer in die bedryf veroorsaak het. FlySafair weerlê egter die bewering, en sê dit is ‘n taktiek om kliëntevertroue te ondermyn. Die klagte sal volgende week ondersoek word.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het vandag met die hoof van die Hoërskool Glenvista, Thobile Morgan, in Johannesburg vergader nadat ‘n video rondgestuur is waarin gesien word hoe ‘n onderwyser en twee leerders mekaar te lyf gaan. News24 berig ‘n graad nege-leerder het probeer om die onderwyser met die vuis te slaan en hy het geval. Die onderwyser het die leerder met ‘n stoel gegooi, en ‘n ander leerder het daarna ‘n lessenaar gegooi. Die vergadering met Morgan volg te midde van kommer oor dissipline by die skool, met berigte oor verskeie geskille tussen leerders die afgelope ruk.
# Motorsport: Die Miami Grand Prix vind dié naweek plaas te midde van baie gissings in Formule Een-geledere oor die toekoms van Red Bull se tegniese hoof, Adrian Newey. Verskeie spanne is gretig om sy dienste te bekom wanneer hy vroeg volgende jaar beskikbaar sal wees, ná 19 baie suksesvolle jare by Red Bull. Die Ferrari-jaer Charles Leclerc sê dit sal baie opwindend wees as die legendariese ontwerper by hulle aansluit:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-702-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-288-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-48-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Adjunkpresident Paul Mashatile het geloofsgemeenskappe gevra om te bid vir vrede en verdraagsaamheid in die komende algemene verkiesing. Mashatile het tydens die gesprek tussen die regering en Wes-Kaapse intergeloofsleiers in Kaapstad gepraat. Hy het die belangrikheid beklemtoon dat Suid-Afrikaners hul grondwetlike regte uitoefen en hul stemme uitbring:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….