Nuus 17:00
BULLETIN 3 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Lugdiens-mededingers wil FlySafair se lisensie laat opskort te midde van ‘n eienaarskapsgeskil
# Argentynse geelmielie-invoere verlaag Wes-Kaapse voerkoste
# En rugby: Ses Springbokke is in die Haaie se opdrafspan in die Uitdaagbeker-halfeindstryd
# Die lugrederye Lift en Airlink gaan die binnelandse Lugdienslisensieraad van Suid-Afrika versoek om FlySafair se bedryfslisensie op te skort. Die versoek volg op ‘n klagte waarin beweer is FlySafair oortree binnelandse eienaarskaps-regulasies. Die beweerde nie-nakoming spruit uit veranderings in sy eienaarskapstruktuur, wat kommer in die bedryf veroorsaak het. FlySafair weerlê egter die bewering, en sê dit is ‘n taktiek om kliëntevertroue te ondermyn. Die klagte sal volgende week ondersoek word.
# Die voormalige adjunkpresident van die ANC, Kgalema Motlanthe, sê die tugproses teen die gewese party-president, Jacob Zuma, is ‘n regverdige proses. Zuma is aangekla van oortreding van die party se grondwet omdat hy die MK-party onderskryf. Die ANC het Zuma in Januarie geskors oor optrede wat die party se integriteit uitgedaag het. Motlanthe het tydens ‘n verkiesingsveldtog in Soweto gesê Zuma se keuses het self sy huidige penarie veroorsaak:
# Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, sê die regering sal voortgaan om nuwe skole te bou om te verseker dat infrastruktuurverbeterings voldoen aan die norme en standaarde van die departement. Motshekga het vandag die nuutgeboude Laerskool Goakganya in die Phasha-Maloka-nedersetting in Noordwes oorhandig. Die departement se woordvoerder, Terrence Khala, sê die moderne skoolgebou in die Bojanala-distrik, wat meer as 38-miljoen-rand gekos het, beskik oor veeldoelige klaskamers, graad R-klaskamers en ander kritieke ouderdomsgerigte geriewe.
# Die Kaapstadse hawe het die eerste van drie besendings Argentynse geelmielies ontvang, wat kostebesparings vir Wes-Kaapse veevoervervaardigers bied. Die mielies is tot 400-rand per ton goedkoper as plaaslike moontlikhede en is ‘n teenvoeter vir stygende pryse te midde van ‘n daling van 19-persent in Suid-Afrika se mielieproduksie. Hoë binnelandse vervoerkoste beteken dat invoere deur Kaapstad meer ekonomies is. Verdere invoere sal na verwagting pryse bestendig hou te midde van voortgesette markskommelings.
# Rugby: Die Haaie het ‘n gulde geleentheid om geskiedenis te maak en die eerste Suid-Afrikaanse span te word wat na die Uitdaagbeker-eindstryd deurdring, wanneer hulle môre in Londen teen Clermont te staan kom. Hoofafrigter John Plumtree het ‘n sterk span gekies teen die Franse reuse. Die volledige Springbok-voorry bestaan uit Ox Nché, Bongi Mbonambi en Vincent Koch, met Eben Etzebeth agter hulle op slot. Daar is ook twee Bokke in die agterlyn, naamlik Aphelele Fassi op heelagter en die kaptein, Lukhanyo Am, op senter.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-408-dollar-41-sent. Die prys van goud is twee-duisend-286-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….