Nuus 16:00
BULLETIN 3 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kgalema Motlanthe steun ‘n regverdige dissiplinêre proses vir Zuma
# Turkye se inflasiekoers styg tot 69,8-persent
# En, rugby: Die Blitsbokke behaal ‘n tweede oorwinning in Singapoer
# Die voormalige adjunkpresident van die ANC, Kgalema Motlanthe, sê die tugproses teen die gewese party-president, Jacob Zuma, is ‘n regverdige proses. Zuma is aangekla van oortreding van die party se grondwet omdat hy die MK-party onderskryf. Die ANC het Zuma in Januarie geskors oor optrede wat die party se integriteit uitgedaag het. Motlanthe het tydens ‘n verkiesingsveldtog in Soweto gesê Zuma se keuses het self sy huidige penarie veroorsaak:
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het Suid-Afrika se eerste gekombineerde siklus-kragsentrale in Richardsbaai, KwaZulu-Natal, besoek. Die aanleg met ‘n vermoë van drie-duisend megawatt, is ‘n beduidende stap in die stryd teen die land se elektrisiteitsuitdagings. Die gas-tot-krag-projek bied ‘n betroubare, koste-doeltreffende en omgewingsvriendelike energie-oplossing, wat Suid-Afrika se energiemengsel uitbrei en afhanklikheid van steenkool verminder. Eskom-bestuurders het Ramokgopa, premier Nomusa Dube-Ncube, en die LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake, Siboniso Duma, op hoogte gebring van die status van die projek.
# Die DA sê die Reguleringsowerheid vir Eiendomspraktisyns het sy voorneme verklaar om die uitreiking of hernuwing van Getrouheidsfonds-sertifikate vir ondernemings met minder as 40 punte op ‘n swartbemagtigings-telkaart te weier. Die party sê die owerheid probeer dit in werklikheid onwettig maak om ‘n eiendomsverwante onderneming te bedryf sonder om aan swart ekonomiese bemagtiging te voldoen. Die DA-lid, Michael Bagraim, sê dit is ‘n skande dat die ANC weer probeer om die sertifikate as ‘n politieke instrument te gebruik in ‘n land wat binne die raamwerk van ‘n Grondwet funksioneer:
# Turkye se jaarlikse inflasiekoers het in April tot 69,8-persent gestyg, ondanks rentekoersverhogings wat daarop gemik is om stygende verbruikerspryse te tem. Inflasie het in Maart 68,5-persent bereik, ‘n toename vanaf die vorige maand, met die land wat sukkel om ‘n lewenskoste-krisis te oorkom. Die sentrale bank het sy sleutelkoers in Junie verlede jaar begin verhoog en dit geleidelik van 8,5- tot 50-persent geneem, nadat president Recep Tayyip Erdogan sy besware teen sekere monetêre beleide verslap het.
# Rugby: Die Blitsbokke is steeds op die wenpad in die Singapoerse sewestoernooi. Suid-Afrika het Spanje 31-7 verslaan in sy eerste groepswedstryd nadat hy vyf drieë gedruk het teenoor die teenstanders se een. Hulle het Samoa daarna 15-10 geklop deur drie drieë teen twee te druk. Die Blitsbokke speel môreoggend hulle laaste groepswedstryd teen Frankryk. Suid-Afrika se vroue het intussen 49-0 teen Frankryk verloor nadat hulle vanoggend ‘n opskudding veroorsaak het deur die sterk Amerikaanse span 14-12 te klop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-222-dollar-58-sent. Die prys van goud is twee-duisend-316-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….