Nuus 15:00
BULLETIN 3 Mei 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Johannesburgse raadslede skuld 2,7-miljoen-rand se tariewe en belasting
# Botswana berei voor vir môre se massabegrafnis vir die 45 slagoffers van ‘n busongeluk in Limpopo
# En, krieket: Die Proteas speel nog net drie toetse tot die einde van die jaar
# Johannesburgse raadslede skuld gesamentlik 2,7-miljoen-rand in tariewe en belasting, met 11 wat reeds drie-maande agterstallig is. Die stad se finansiële direkteur, Kgamanyane Maphologela, sê daar is vordering met skuldinvordering as gevolg van interne projekte, en rekeninghouers wat nie voldoen nie, word ontkoppel totdat rekeninge betaal is. Johannesburg poog om die afdwinging van kredietbeheerbeleide op werknemers en raadslede voorkeur te gee. Nie-voldoenende raadslede wat die Wet op Munisipale Strukture oortree, kan salarisaftrekkings en ‘n gedragsoortreding verwag.
# Die ANC Jeugliga meen hy is ‘n deurslaggewende faktor vir die regerende party se sukses in die komende verkiesing. Die organisasie, wat verlede jaar ‘n nuwe begin gemaak het, wil uitdagings soos werkloosheid en jeug-onbetrokkenheid in die politiek aanpak. Die president van die liga, Collen Malatji, het op ‘n nuuskonferensie gesê hulle aktiewe betrokkenheid by gemeenskappe vuur die ANC se verkiesingsveldtog aan. Volgens Malatji is die ANC die enigste politieke party wat die lewensgehalte van die jeug kan verbeter:
# Die UDM se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, sê die ANC-regering stel willens en wetens die voortbestaan van duisende gesinne van byna vyf-duisend Poskantoor-werknemers in gevaar om finansieel swaar te kry en honger te ly. Die party het sy teenkanting uitgespreek teen die regering se benadering oor die Poskantoor se rasionalisering deur ‘n reddingsboei van 3,8-miljard-rand. Kwankwa sê die party pleit dat die Poskantoor sy hoofkliëntebasis in landelike gebiede voorop stel deur marknavorsing te doen om hul behoeftes beter te verstaan:
# Botswana is besig met die finale reëlings vir die massabegrafnis van 45 Botswana-pelgrims wat op pad na die Zion Christian Church in Moria, Limpopo, in ‘n busongeluk dood is. Die begrafnis, wat vroeg môre-oggend by die Garanta-begraafplaas in Molepolole plaasvind, sal voorafgegaan word deur ‘n diens by die plaaslike sportstadion. Die minister in die kantoor van Botswana se Staatspresident, Kabo Morwaeng, sê die liggame van die slagoffers sal in verseëlde kiste begrawe word, sonder vooraf-besigtiging.
# Krieket: Die Proteas speel nog net drie toetse tot die einde van die jaar. Krieket Suid-Afrika het die span se skedule vir die volgende tuisseisoen bekend gemaak. Die Proteas sal ná volgende maand se T20-Wêreldbekertoernooi eers weer in November tuis speel wanneer hulle die gasheer sal wees vir Sri Lanka in ‘n toets in Durban, gevolg deur een in Gqeberha vanaf 5 tot 9 Desember. Daarna sal hulle Pakistan verwelkom vir drie T20’s en drie eendagwedstryde voor die tradisionele Nuwejaarstoets in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-215-dollar-5-sent. Die prys van goud is twee-duisend-298-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….