Nuus 14:00
BULLETIN 3 Mei 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party ondersteun Zuma in sy dissiplinêre verhoor
# Rugby: Halfpenny maak môre sy debuut vir die Crusaders
# En, Suid-Afrika daal van 25ste tot 38ste op die Wêreld-mediavryheids-ranglys
# Die uMkhonto we Sizwe Party het aangekondig sy leier, Jacob Zuma, sal voor die ANC se dissiplinêre komitee verskyn om te bevestig hy het niks om weg te steek nie. Die ANC het ‘n kennisgewing uitgereik vir Zuma om by Luthuli-huis te verskyn, aangesien hy beskuldig word van die oortreding van die party se grondwet deur die MK Party te onderskryf en op sy kandidatelys te verskyn. Die MK Party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, beweer Zuma se dubbele lidmaatskap is nie omstrede nie. Die verhoor vind volgende week plaas.
# Die UDM se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, sê die ANC-regering stel willens en wetens die voortbestaan van duisende gesinne van byna vyf-duisend Poskantoor-werknemers in gevaar om finansieel swaar te kry en honger te ly. Die party het sy teenkanting uitgespreek teen die regering se benadering oor die Poskantoor se rasionalisering deur ‘n reddingsboei van 3,8-miljard-rand. Kwankwa sê die party pleit dat die Poskantoor sy hoofkliëntebasis in landelike gebiede voorop stel deur marknavorsing te doen om hul behoeftes beter te verstaan:
# Johannesburg se burgemeester, Kabelo Gwamanda, het die belangrikheid beklemtoon van infrastruktuur-instandhouding en -belegging om die voorslepende water-uitdagings op te los. Gwamanda het raadslede op ‘n raadsitting gewaarsku teen diensklagtes as hulle nie skuld-ooreenkomste betaal of erken nie. Hy het die stad se inkomste-insamelingsveldtog beklemtoon om belastingbetalers se kommer uit die weg te ruim. Gwamanda erken daar is ‘n waterkrisis weens stygende vraag, en stelsels wat ingee:
# Rugby: Die heelagter van Wallis en die Britse en Ierse Leeus, Leigh Halfpenny, maak na verwagting môre sy langverwagte Super Rugby-debuut vir die Crusaders. Hy is ingesluit in die beginspan teen die Reds in Christchurch na drie maande met ‘n borsbesering. Halfpenny het verlede jaar by die verdedigende kampioen aangesluit nadat hy uit internasionale rugby getree het. Hy het 101 toetse vir Wallis gespeel en vier wedstryde vir die Leeus. Die Crusaders is tans tiende op die punteleer nadat hulle net twee van hulle nege wedstryde gewen het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-207-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-299-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-81-sent per vat.
# En, laastens: Die Mediawaghond-groep Verslaggewers Sonder Grense het gewaarsku oor dalende regeringsteun vir mediavryheid toe hy sy jaarlikse Mediavryheids-aanwyser bekend gestel het. Noorweë het sy topposisie behou, terwyl Eritreë laaste gekom het. Namibië het teruggesak van 22ste na 34ste, met steeds die grootste mediavryheid in Afrika. Suid-Afrika het van 25ste tot 38ste op die lys van 180 lande gedaal. Van die belangrikste dalings was Afganistan met 26 plekke tot 178ste, Togo met 43 tot 113de, en Ecuador, met 30 tot 110de. Die onderste 10 sluit China, Iran, Noord-Korea, Sirië en Eritreë in.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….