Eko-minuut 13:30
BULLETIN 3 Mei 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Energieraad van Suid-Afrika het die Parlement se goedkeuring van die Wetsontwerp op Klimaatsverandering verwelkom. Die wetsontwerp het die skepping van doeltreffende reaksie op klimaatsverandering en ‘n lang termyn regverdige oorgang na ‘n laekoolstof- en klimaatsweerstandige ekonomie ten doel. Die uitvoerende hoof van die raad, James Mackay, sê die wetsontwerp erken dat Suid-Afrika ‘n onmisbare rol speel in die wêreldwye poging om die vrystelling van kweekhuisgas te verlaag en dat Suider-Afrika veral kwesbaar is vir die gevolge van klimaatsverandering.
# ‘n Toonaangewende voorstander van volhoubare metaalverpakking, MetPac-SA, borg ‘n vernuwende reeks video’s oor herwinning. Die Plant die Saad-reeks beklemtoon hoe belangrik dit is om ʼn sirkulêre ekonomie te skep waarin sake-ondernemings, skole en gemeenskappe bygestaan word met hulle herwinnings- en afvalbestuurs-oplossings. Die uitvoerende hoof, Kishan Singh, sê opvoeding is belangrik om ʼn positiewe verandering vir ʼn meer volhoubare toekoms te bewerkstellig.
# En, laastens: Die Stad Kaapstad se Direktoraat vir Water en Sanitasie sê hy het betyds begin met instandhouding van die Spaanschematsrivier in Constantia om oorstromings te voorkom. Die werk sluit vullisverwydering, die snoei van indringerplante en skoonmaak van stormwater-infrastruktuur in. Die burgemeesterskomiteelid vir Water en Sanitasie, Zahid Badroodien, sê die stad het 700-duisend-rand belê om die rivier oop te hou om oorstromings te voorkom:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….