Nuus 13:00
BULLETIN 3 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party ondersteun Zuma in sy dissiplinêre verhoor
# Oekraïne se vredeskonferensie word vir volgende maand geskeduleer
# En, rugby: Die Blitsbokke skop goed af in Singapoer
# Die uMkhonto we Sizwe Party het aangekondig sy leier, Jacob Zuma, sal voor die ANC se dissiplinêre komitee verskyn om te bevestig hy het niks om weg te steek nie. Die ANC het ‘n kennisgewing uitgereik vir Zuma om by Luthuli-huis te verskyn, aangesien hy beskuldig word van die oortreding van die party se grondwet deur die MK-party te onderskryf en op sy kandidatelys te verskyn. Die MK-party se woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, beweer Zuma se dubbele lidmaatskap is nie omstrede nie. Die verhoor vind volgende week plaas.
# Gauteng se Gesondheidsdepartement het wanopvattings uitgeklaar oor veranderde oortydgoedkeuring. Woordvoerder Motalatale Modiba sê uitvoerende hoofde van hospitale sal nou oortyd aanbeveel, goedgekeur deur die departmentshoof. Die besluit wil onreëlmatighede uit die weg ruim en bronne doeltreffend gebruik. Modiba onderstreep aanspreeklikheid en wil misbruik van die stelsel voorkom. Hy sê die hersiene beleid betrek klinici en wil meer spesialiste na Gauteng lok:
# Switserland het meer as 160 afvaardigings na volgende maand se Oekraïnse vredeskonferensie genooi, hoewel Rusland nie in hierdie stadium onder hulle is nie. Rusland het die byeenkoms in Lucerne afgemaak as ‘n komplot wat deur Amerika beraam is. Dit is nog ‘n raaisel of Moskou se belangrikste bondgenoot, China, dit sal bywoon. Die lys van deelnemende lande sal gepubliseer word kort voor die konferensie begin, maar dit sluit lede van die G7, die G20 en die BRICS-groep in. Die G7-beraad word van 13 tot 15 Junie in die buurland Italië gehou, voor die konferensie begin.
# Rugby: Die Blitsbokke het die Singapoerse sewestoernooi op ‘n hoë noot afgeskop deur Spanje 31-7 te klop in hulle eerste wedstryd. Selvyn Davids en Dewald Human het in die eerste helfte drieë gedruk en Suid-Afrika het rustyd 12-0 voorgeloop. Impi Visser, Tristan Leyds en Rosko Specman het daarna gedruk om die oorwinning te verseël. Die Blitsbokke speel 18 minute oor 1 in hulle tweede wedstryd teen Samoa. Suid-Afrika se vrouespan het intussen ‘n reuse opskudding veroorsaak deur die sterk span van Amerika 14-12 te klop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-391-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-301-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-71-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Charissa Button het die eerste PhD-gegradueerde in Astrofisika aan die Universiteit van Pretoria geword. Haar belangstelling in radio-astronomie is aangewakker deur die vak se unieke perspektief om talle fundamentele kwessies oor fisika te ondersoek. Dit sluit in die aard en effek van donker materie en die uitgestrektheid van die heelal. Button sê sy het tydens haar radio-astronomie-studies ‘n belangstelling ontwikkel in die groot verskeidenheid fisiese prosesse wat tot die vorming en ontwikkeling van die sterrestelsel bydra:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….