Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Mei 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Blitsbokke het die Singapoerse sewestoernooi op ‘n hoë noot afgeskop deur Spanje 31-7 te klop in hulle eerste wedstryd. Selvyn Davids en Dewald Human het in die eerste helfte drieë gedruk en Suid-Afrika het rustyd 12-0 voorgeloop. Impi Visser, Tristan Leyds en Rosko Specman het daarna gedruk om die oorwinning te verseël. Die Blitsbokke speel 18 minute oor 1 in hulle tweede wedstryd teen Samoa. Suid-Afrika se vrouespan het intussen ‘n reuse opskudding veroorsaak deur die sterk span van Amerika 14-12 te klop.
Nog rugbynuus is dat die heelagter van Wallis en die Britse en Ierse Leeus, Leigh Halfpenny, na verwagting môre sy langverwagte Super Rugby-debuut vir die Crusaders maak. Hy is ingesluit in die beginspan teen die Reds in Christchurch na drie maande met ‘n borsbesering. Halfpenny het verlede jaar by die verdedigende kampioen aangesluit nadat hy uit internasionale rugby getree het. Hy het 101 toetse vir Wallis gespeel en vier vir die Leeus. Die Crusaders is tans tiende op die punteleer nadat hulle net twee van hulle nege wedstryde gewen het.
# Padwedlope: Die vyfde jaarlikse Prins Mangosuthu-ultramarathon vind Sondag weer in die KwaZulu-Natalse Middellande plaas. Dis egter die eerste keer dat die persoon na wie die wedloop vernoem is, nie daar sal wees nie omdat prins Mangosuthu Buthelezi in September oorlede is. Die wedloop oor 52-kilometer dien as kwalifiseerder vir die Comrades-marathon. Die burgemeester van die Umzinyathi-distrik, Petros Ngubane, sê maatreëls is getref om seker te maak die geleentheid verloop glad:
# Die Internasionale Krieketraad het die veelsydige Wes-Indiese speler, Devon Thomas, vir vyf jaar geskors nadat hy betrokkenheid by sewe korrupsie-oortredings erken het. Agtien maande is opgeskort. Sy ernstigste oortreding was wedstrydknoeiery in Sri Lanka se plaaslike T20-kompetisie in 2021, waar hy net een wedstryd vir die Kandy Warriors gespeel het. Thomas het die Windies 34 keer in alle formate verteenwoordig. Die IKR sê hierdie skorsing stuur ‘n sterk boodskap dat daar streng opgetree sal word teen korrupsie in die sport.
# En tennis: Die wêreld se nommer een, Iga Swiatek, kom soos verlede jaar in die Madridse Ope se eindstryd teen die verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, te staan. Swiatek van Pole het die Amerikaner Madison Keys 6-1, 6-3 verslaan om haar derde eindstryd van die jaar te haal. Die tweede gekeurde Sabalenka van Belarus was een stel agter, maar het teruggeveg en Elena Rybakina van Kazakstan 1-6, 7-5, 7-6 geklop. Sabalenka verwag ʼn taai wedstryd teen Swiatek:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….