Nuus 12:00
BULLETIN 3 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Appèlhof gee Tshwane toestemming om kragtoevoer na die Zambezi-winkelsentrum af te sny
# Die Wes-Kaapse premier sê die provinsie sal sy nuwe energieteikens bereik
# En, padwedlope: Die vyfde jaarlikse Prins Mangosuthu-ultramarathon vind die naweek in KwaZulu-Natal plaas
# Die Appèlhof het die Stad Tshwane toestemming gegee om die kragtoevoer na die Zambezi-winkelsentrum in Derdepoort weens wanbetaling af te sny. Die hof het bevind daar is sedert 2018 doelbewus nie vir dienste betaal nie. Die metro voer in hofdokumente aan die sentrum se regspersoon het teen Januarie 2022, 24-miljoen-rand geskuld. Tshwane se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê dis noodsaaklik dat regspersone seker maak hulle eiendomme word behoorlik bestuur.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die provinsie is goed op dreef om sy teiken te haal en teen 2035 vyf-duisend-700 megawatt energie op te wek. Dis deel van die provinsie se Energie-veerkragtigheidsprogram. Winde sê die provinsie vestig tans foto-voltaïese sonkrag- en battery-bergingstelsels en is besig met ‘n hernubare energieprojek om die dorp Riversdal beurtkragvry te maak:
# Die Britse Arbeidersparty het betekenisvolle oorwinnings in tussenverkiesings behaal en die Konserwatiewe eerste minister, Rishi Sunak, se leierskap ʼn knou gegee. Stemme word steeds getel en die belangrikste uitslag oornag was in Blackpool-Suid waar Chris Webb van die Arbeidersparty die parlementêre tussenverkiesing met tien-duisend-825 stemme by die Konserwatiewes afgeneem het. Die Arbeiders het ook in Redditch en Hartlepool sukses behaal. Webb het Sunak gevra om te erken hy het misluk en ʼn algemene verkiesing uit te roep:
# Padwedlope: Die vyfde jaarlikse Prins Mangosuthu-ultramarathon vind Sondag weer in die KwaZulu-Natalse Middellande plaas. Dis die eerste keer dat die persoon na wie die wedloop vernoem is, nie daar sal wees nie omdat prins Mangosuthu Buthelezi in September oorlede is. Die wedloop oor 52-kilometer dien as kwalifiseerder vir die Comrades-marathon. Die burgemeester van die Umzinyathi-distrik, Petros Ngubane, sê maatreëls is getref om seker te maak die geleentheid verloop glad:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-94-sent teen die euro en 23-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-323-dollar-59-sent. Die prys van goud is twee-duisend-299-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-75-sent per vat.
# En, laastens: Die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur, Unesco, het sy Wêreldpersvryheidsprys aan alle Palestynse joernaliste toegeken wat die oorlog in Gaza dek. Volgens die komitee vir die beskerming van joernaliste in New York is minstens 97 van sy lede dood sedert die begin van die oorlog, van wie 92 Palestyne was. Unesco se direkteur-generaal, Audrey Azoulay, het die joernaliste geloof vir hul waagmoed in moeilike en gevaarlike omstandighede.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….