Nuus 09:00
BULLETIN 3 Mei 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu veroordeel die DA se aanvalle op die regte van werkers
# BHP het ‘n span senior bestuurders na Suid-Afrika gestuur
# En Olimpiese Spele: Daar bestaan vrese dat vullisverwyderaars tydens die Parys-spele gaan staak
# Cosatu sê hy veroordeel wat hy beskou as oningeligte DA-aanvalle op werkers se regte. Die DA-leier John Steenhuisen het Cosatu beskuldig dat hy stilgebly het toe regeringsposte vir ANC-kaders gegee is, en BEE-kontrakte aan mense met politieke bande toegeken is. Cosatu se waarnemende nasionale woordvoerder, Matthew Parks, sê werkers kan nie die DA met hul lewens en regte vertrou nie:
# Die mynreus BHP het ‘n span top- uitvoerende beamptes na Suid-Afrika gestuur om die regering, plaaslike beleggers, reguleerders en plaaslike aandeelhouers te bearbei. Anglo American het verlede week BHP se voorgestelde oorname-aanbod verwerp en gesê dit onderwaardeer die maatskappy. Die Australiese mynreus het voorgestel hy neem Anglo American met alle aandele oor teen sowat 740-miljard-rand. BHP sê sy voorstel was nie ʼn aanklag teen die land nie, maar portefeuljes en verbruikersprodukte is oorweeg.
# Die gewese adjunk-president van die ANC, Kgalema Motlanthe, sal vandag en môre die regerende party se verkiesingsveldtog in onderskeidelik Soweto en Ekurhuleni lei. Hy sal kiesers aanmoedig om die ANC vir nog ‘n termyn te laat regeer ná stemdag op 29 Mei. Die voormalige president Thabo Mbeki sal intussen vandag in Soshanguve in Pretoria stemme werf. Mbeki sê dis sy plig om namens die ANC met burgers te skakel.
# Zimbabwe bied sy 2024-beleggingspitsberaad in Kemptonpark aan, om die land se ekonomiese en beleggingsgeleenthede aan sleutel-belanghebbers bekend te stel. Onder die tema, ‘People You Can Invest In,’ sal Zimbabwe se geskoolde arbeidsmag en aantreklike beleggingsvooruitsigte, veral in toerisme, mynwese en landbou bekendgestel word. Die land se ambassadeur in Suid-Afrika, David Hamadziripi, sê buitelandse direkte beleggings neem toe, met aansienlike groei wat in verskeie sektore verwag word:
# Olimpiese Spele: Vrese neem toe ‘n staking kan veroorsaak dat vullis ophoop op Parys se sypaadjies tydens die Spele. Dit volg nadat verwyderaars gedreig het met arbeidsoptrede oor die Europese somer, met die vakbond CGT wat sê sy lede is ongelukkig omdat die munisipale polisie, wat vir dieselfde werkgewer werk, ‘n bonus kry. ‘n Staking van drie weke het verlede jaar veroorsaak dat meer as tien-ton afval in die strate van die Franse hoofstad opgehoop het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-796-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-302-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….