Nuus 07:00
BULLETIN 3 Mei 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA vra minister Pandor oor die vrylating van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs wat in Ekwatoriaal-Guinee aangehou word
# Die Departement van Justisie waarsku landdroste teen staking
# En krieket: Devon Thomas van die Wes-Indiese Eilande word vir vyf jaar geskors
# Die DA verwelkom die Departement van Internasionale Verhoudings en Samewerking se ingryping vir die vrylating van twee Suid-Afrikaanse ingenieurs in Ekwatoriaal-Guinee wat reeds langer as 15 maande aangehou word. Frik Potgieter en Peter Huxham is arresteer op vals dwelmaanklagte, blykbaar as vergelding vir beslaglegging op bates van Ekwatoriaal-Guinee se adjunkpresident Teodore Nguema Obiang Mangue. Emma Louise Powell van die DA sê minister Naledi Pandor besoek Ekwatoriaal-Guinee Saterdag vir onderhandelings:
# Die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste het landdroste wat dreig om te staak, gewaarsku dit sal onwettig wees. Landdroste wat aan die Vereniging vir Regterlike Beamptes behoort, wil oor salarisse staak. Die vereniging beskuldig die Onafhanklike Kommissie vir die Vergoeding van Openbare Ampsdraers dat hulle voete sleep om salarisverhogings vir landdroste te hersien. Die departement se woordvoerder, Chrispin Phiri, sê die Wet op Arbeidsverhoudinge is nie op landdroste van toepassing nie:
# President Cyril Ramaphosa sê billike toegang tot omvattende geleenthede vir vroeëkinderjare-ontwikkeling is die basis van verbeterde onderwysuitkomste en inklusiewe ekonomiese groei. Hy het by die eerste vergadering van die Inter-Ministeriële Komitee vir Vroeëkinderjare-ontwikkeling gepraat. Die president beskryf dit as die ware rewolusie vir die land se langtermynontwikkeling. Ramaphosa sê die komitee se hoofverantwoordelikhede sluit in dat elke kind toegang het tot bekostigbare kinderprogramme en genoeg fondse en hulpbronne in die kwesbaarste gemeenskappe.
# Die burgemeester van Johannesburg, Kabelo Gwamanda, lig onwettige mynbou uit as ‘n groot bekommernis wat finansiële druk op die stad plaas. In sy tweede stadsrede het Gwamanda die gevaarlike situasie beklemtoon en waarsku teen onwettige mynbou se bedreiging vir inwoners se sekerheid en infrastruktuur, wat skade insluit aan paaie en waterstelsels. Hy het ook verwys na die gesondheidsrisiko’s weens besoedeling deur onwettige mynbou:
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het die veelsydige Wes-Indiese speler, Devon Thomas, vir vyf jaar geskors nadat hy betrokkenheid by sewe korrupsie-oortredings erken het. Agtien maande is opgeskort. Sy ernstigste oortreding was wedstrydknoeiery in Sri Lanka se plaaslike T20-kompetisie in 2021, waar hy net een wedstryd vir die Kandy Warriors gespeel het. Thomas het die Wes-Indies 34 keer in alle formate verteenwoordig. Die IKR sê hierdie skorsing stuur ‘n sterk boodskap dat daar streng opgetree sal word teen korrupsie in die sport.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-91-sent teen die euro en 23-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-677-dollar-62-sent. Die prys van goud is twee-duisend-300-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Die inskrywings vir Mej Suid-Afrika 2024 sluit volgende week Woensdag. Getroude vroue en dié met kinders is steeds welkom om in te skryf. Die publiek sal weer die finaliste leer ken op die werklikheidstelevisieprogram Crown Chasers, wat op SABC3 uitgesaai word. Die huidige Mej SA, Natasha Joubert, sê deelnemers moet hulself goed ken, aangesien die kompetisie oor meer gaan as net die klerekas, voorspraak en selferkenning.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….