Nuus 17:00
BULLETIN 2 Mei 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die reëlings vir die oorsese stemproses word afgehandel
# Die DA sê pasiënte sal ly weens die besnoeiing van Gautengse dokters se oortydbetaling
# En, rugby: Die Haaie wil die eerste Suid-Afrikaanse span word in ‘n Europese eindstryd
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het die reëlings afgehandel vir die oorsese stemproses vir verkiesingsdag op 29 Mei. Duisende geregistreerde kiesers sal by 115 diplomatieke sendings wêreldwyd stem. Die woordvoerder, Clayson Monyela, gee die versekering dat die Verkiesingskommissie stemmateriaal veilig sal aflewer in diplomatieke lugvragsakke, wat ingevolge internasionale konvensies beskerm word deur diplomatieke immuniteit.
Intussen herinner die Verkiesingskommissie kiesers môre is die spertyd vir aansoeke vir spesiale stemme. Dit kan aanlyn, per SMS of by plaaslike OVK-kantore gedoen word. Meer as ‘n miljoen aansoeke is reeds goedgekeur. Spesiale stemme word uitgebring op 27 en 28 Mei van nege-uur die oggend tot vyf-uur die middag. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê geen laat aansoeke sal aanvaar word nie:
# Die DA in Gauteng sê ‘n nuwe stelsel vir oortydgoedkeuring dreig om die oortyd van dokters in die provinsie se staatshospitale met ‘n kwart te sny. Gauteng se oortydbegroting is besnoei van 3,45-miljard-tot 2,65-miljard-rand. Jack Bloom van die DA sê volgens die LUR vir Gesondheid en Welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, is die oortydveranderings gemaak om iets te doen aan ongelykhede en onreëlmatighede met die goedkeuring en bestuur daarvan:
# Rugby: Dit is ‘n belangrike naweek vir die Haaie in die halfeindtstryd van die Europese Uitdaagbeker. Hulle pak die Franse span Clermont Saterdag in Londen. ‘n Oorwinning sal hulle laat deurdring na die eindstryd op 24 Mei, wat hulle die eerste Suid-Afrikaanse span sal maak om dié stadium van ‘n Europese kompetisie te haal. Die Springbok-senter Lukhanyo Am sê hulle is opgewonde oor die groot wedstryd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 19-rand-98-sent teen die euro en 23-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-478-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-289-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-56-sent per vat.
# En, TIME Magazine het die direkteur van die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovering, Tulio de Oliveira, gekies vir insluiting op sy 2024 TIME100-gesondheidslys. De Oliveira is voorheen erken op die 2022 TIME100-lys vir die leiding van die ontdekking van die Omicron- en Beta-variante van Covid-19. Hy het verlede jaar die Climate Amplified Diseases and Epidemics-konsortium gestig, wat sy voortgesette pogings onderstreep teen siektes wat deur klimaatsverandering vererger word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….