Nuus 16:00
BULLETIN 2 Mei 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Laaste oproep vir aansoeke om spesiale stemme
# Die DA beskuldig Cosatu van die aanvuur van die werkloosheidskrisis
# En, rugby: Die Baba Bokke speel 13-elk gelykop teen Nieu-Seeland
# Die Verkiesingskommissie herinner kiesers môre is die spertyd vir aansoeke vir spesiale stemme. Dit kan aanlyn, per SMS of by plaaslike OVK-kantore gedoen word. Meer as ‘n miljoen aansoeke is reeds goedgekeur. Spesiale stemme word uitgebring op 27 en 28 Mei van nege-uur die oggend tot vyf-uur die middag. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê geen laat aansoeke sal aanvaar word nie:
Intussen beskuldig die DA Cosatu van verraad teen werkers deur hom met die ANC en die Kommunistiese Party te vereenselwig. Hy beweer Cosatu se alliansie met die partye het gelei tot beleid wat ekonomiese groei en werkskepping strem. Die party sê daarenteen is sy ekonomiese beleid ‘n alternatief om groei te stimuleer. DA-leier John Steenhuisen het kiesers by Cosatu se hoofkantoor in Braamfontein, Johannesburg, aangemoedig om te stem vir verandering in die komende verkiesing:
# Die mynwerkersvakbond NUM dreig met massa-optrede teen mynondernemings oor beplande afleggings. NUM se president, Dan Balepile, het ‘n optog na Sibanye Stillwater aangekondig om te betoog teen die voorgestelde besnoeiing van vier-duisend werksgeleenthede in die goudsektor. Verskeie mynondernemings het afleggingskennisgewings aan werknemers uitgereik, terwyl ander mynwerkers reeds afgedank is. Die vakbond het ondernemings ook gekritiseer oor onvoldoende veiligheidsmaatreëls om sterftes tydens ondergrondse ongelukke te voorkom.
# Rugby: Die Junior Springbokke het 13-elk gelykop gespeel teen Nieu-Seeland in die openingsronde van die eerste onder-20-rugbykampioenskap op die Sunshine Coast-stadion in Queensland, Australië. Die junior All Blacks het rustyd 3-0 voorgeloop in baie nat speeltoestande met poele water op die hele veld. Suid-Afrika se vleuel, Joel Leotlela, het sy span se enigste drie gedruk, terwyl die losskakel, Tylor Sefoor, oorgeskop en ook twee strafdoele behaal het. Die Junior Bokke speel Dinsdag op dieselfde stadion teen Australië.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-868-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-300-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte, meer Suid-Afrikaners wend hul tot gesamentlike huiskoop weens stygende skulddienskoste en die hoë lewenskoste. FNB het die afgelope ses maand ‘n toename van 36-persent aangemeld in lenings wat vir gesamentlike huiskoop uitbetaal is, met tot 12 mense wat saam ‘n huis kan koop. Gauteng en die Wes-Kaap koop die meeste gesamentlike huise, met welgestelde kliënte wat hierdie metode kies vir vakansie- en semigrasie-eiendomme. Mfundo Mabaso van FNB sê die neiging is veral algemeen onder kliënte wat bekostigbare behuising wil hê en tussen drie-duisend-500- en 29-duisend-600-rand per maand verdien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….