Nuus 12:00
BULLETIN 2 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die ANC se openbare ondernemingsmodel het staatsfinansies laat ineenstort
# Leerdervervoer-operateurs staak in die Oos-Kaap
# En, gholf: Woods speel later die maand in die PGA-kampioenskap
# Die DA sê dit is duidelik die ANC-regering se staatsbeheerde openbare ondernemingsmodel het staatsfinansies laat ineenstort. Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het op die DA se vraag in die Parlement geantwoord dat 283-miljard-rand oor die afgelope vyf jaar bestee is aan reddingsboeie vir Eskom, Denel, Transnet en die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Mimmy Gondwe van die DA sê Gordhan probeer die verkwistende uitgawe regverdig as kapitaalbelegging en nie as reddingsboeie nie:
# Die Oos-Kaapse Departement van Vervoer sê ‘n staking deur leerdervervoer-operateurs het ‘n ernstige invloed op die verkeersvloei in sommige dele van die provinsie en maak dit byna onmoontlik vir mense, goedere en dienste om rond te beweeg. Hulle betoog teen die voortslepende vertraging met betalings van die provinsiale regering se leerdervervoer-program wat sedert Januarie sloer. Die departement se woordvoerder, Unathi Binqose, sê die volgende uitbetalings, ten bedrae van 5,9-miljoen-rand, is vir môre geskeduleer:
# Die voedsel- en drank-handelsmerkgroep, Clover, sal in Augustus sy Halaal-sertifisering verloor. Die Moslem-Geregsraad se Halaal-trust sê dit is ‘n standpunt teen die konflik in Gaza. Die trust het begin vanjaar opgehou om Clover-produkte as Halaal te sertifiseer. Die bedryfshoof, Moulana Zakariyah Philander, verduidelik ‘n tydperk van nege maande is voorsien vir die uitfasering van sy logo’s, met die laaste voorraad met die Halaal-logo wat teen Augustus uitfaseer sal wees. Clover is in 2019 gekoop deur ‘n konsortium onder leiding van die Israelse drankfirma Central Bottling Company, Milco.
Intussen het pro-Palestynse betogings by verskeie universiteite in Amerika nou ook na Brittanje uitgekring. Studente in Manchester, Leeds, Newcastle en Bristol het tente opgeslaan voor universiteitsgeboue en eis dat dié instellings maatskappye en individue met Israelse bande boikot. Ongeveer 50 studente betoog by die Universiteit van Manchester. Universities UK, wat 142 instellings verteenwoordig, sê universiteite werk hard om die regte balans te vind tussen die veiligheid van alle studente en personeel en vryheid van spraak op kampus.
# Gholf: Die 15-malige Major-kampioen, Tiger Woods, sê hy is gereed om later die maand aan die PGA-kampioenskap op die Valhalla-gholfklub in Louisville, Kentucky, deel te neem. Die 48-jarige speler het steeds fisiese beperkings ná sy motorbotsing in 2021. Hy het verlede maand die Meesters voltooi en dit was die vierde keer dat hy al vier rondes van ‘n mededingende toernooi kon voltooi sedert hy sy Meesters-titel in November 2020 verdedig het. Woods sê hy hoop steeds om die res van die jaar elke maand aan ʼn toernooi deel te neem.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-88-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-665-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-306-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….