Nuus 11:00
BULLETIN 2 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# NotInMyName versoek besonderhede oor die OVK se vergadering met die Amerikaanse ambassadeur
# Pro-Palestynse betogings by universiteite versprei van die VSA na Brittanje
# En gholf: Tiger Woods sal later die maand aan die PGA-kampioenskap deelneem
# Die burgerregte-organisasie #NotInMyName dring aan dat die Verkiesingskommissie die notule van sy vergadering met die Amerikaanse ambassadeur, Reuben Brigety, bekendmaak. Die OVK se bestuur het met Brigety vergader en kommer laat toeneem dat Amerika by die land se verkiesing op 29 Mei kan inmeng. Die kommissie sê dit was nie ‘n geheimsinnige vergadering nie en dis belangrik om diplomate in hul vertroue te neem oor die land se gereedheid vir die verkiesing. #NotInMyName sê hulle wil weet of die OVK met al die lande gaan vergader wat diplomatieke bande met Suid-Afrika het.
# Die vakbondfederasie Saftu sê die regering moet die land se openbare gesondheidstelsel versterk sodat dit aan die akkreditasievereistes van die Nasionale Gesondheidsversekering voldoen. Gesondheids-instellings word landwyd negatief geraak deur besnoeiingsmaatreëls wat veroorsaak dat poste nie gevul word nie en ernstige tekorte aan fondse ontstaan. Saftu se woordvoerder, Trevor Shaku, sê die hooffokus moet op primêre sorgvlakke wees, van huishoudings en klinieke na distrikshospitale binne die distriksgesondheidstelsel:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa het SA Steel Mills beskuldig van onmenslike optrede teen werkers, wat aan ‘n wettige staking deelneem. Numsa het gereageer op die skorsing van meer as 200 werkers by die maatskappy se staalaanleg in Sedibeng, Gauteng. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê SA Steel Mills probeer werkers dwing om ‘n ooreenkoms te onderteken wat die minimum-loon tot 32-rand sal verlaag:
# Pro-Palestynse betogings by verskeie universiteite in Amerika, het nou ook na Brittanje uitgekring. Studente in Manchester, Leeds, Newcastle en Bristol het tente opgeslaan voor universiteitsgeboue en eis dat dié instellings maatskappye en individue met Israelse bande boikot. Ongeveer 50 studente betoog by die Universiteit van Manchester. Universities UK, wat 142 instellings verteenwoordig, sê universiteite werk hard om die regte balans te vind tussen die veiligheid van alle studente en personeel en vryheid van spraak op kampus.
# Gholf: Die 15-malige Major-kampioen, Tiger Woods, sê hy is gereed om later die maand aan die PGA-kampioenskap op die Valhalla-gholfklub in Louisville, Kentucky, deel te neem. Die 48-jarige speler het steeds fisiese beperkings ná sy motorbotsing in 2021. Hy het verlede maand die Meesters voltooi en dit was die vierde keer dat hy al vier rondes van ‘n mededingende toernooi kon voltooi sedert hy sy Meesters-titel in November 2020 verdedig het. Woods sê hy hoop steeds om die res van die jaar elke maand aan ʼn toernooi deel te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-582-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-314-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….