Nuus 08:00
BULLETIN 2 Mei 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Byna vyfduisend Poskantoorwerkers gaan afgelê word nadat ‘n poging om befondsing te verseker misluk
# Die VF Plus sê werkskepping is die sleutel tot ekonomiese groei
# En sowat 300 pro-Palestynse studentebetogers is in die VSA gearresteer
# Die aflegging van vier-duisend-889 werkers van die Suid-Afrikaanse Poskantoor gaan voort. Dit volg nadat die sakeredding-praktisyns se aansoek om befondsing van die Werkloosheidversekeringsfonds se tydelike verligtingskema van die hand gewys is. Die befondsing sou die afleggings met 12 maande uitstel terwyl personeel heropgelei word vir moontlike plasings in posisies terwyl hulle ‘n salaris ontvang. Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie se kommissaris, Willie Hlophe, sê die finansiële probleme word veroorsaak deur die hoë salarisrekening en kan nie deur die verligtingskema opgelos word nie.
# Die Vryheidsfront Plus sê die ANC besef nie werkskepping kan slegs plaasvind as regeringsbeleid verander word om ʼn gunstige omgewing vir beleggers te skep sodat die ekonomie kan groei nie. Die leier, Pieter Groenewald, sê onbuigsame arbeidswetgewing is een van die grootste struikelblokke wat ekonomiese groei en werkskepping in die land lamlê. Hy sê dis nie net moeilik om onbevoegde individue af te dank nie, maar dis ook ʼn ewige stryd om hervormingsteikens te bereik. Groenewald sê die land kan slegs deur werkskepping herbou word.
# Gauteng se LUR vir Gemeenskapsveiligheid, Faith Mazibuko, sê die polisie gaan voort om misdadigers te soek wat motoriste op die N4 tussen Pretoria en Rustenburg teiken. Daar was ʼn opmerklike toename in die getal aangemelde gevalle waar misdadigers spykers of voorwerpe op openbare paaie plaas met die doel om motoriste op die hoofweg te beroof. Mazibuko sê motoriste moet te alle tye waaksaam wees:
# Ongeveer 300 pro-Palestynse betogers is gister by die Columbia Universiteit en City College in New York gearresteer. Universiteite reg oor Amerika loop deur onder betogings oor die oorlog in Gaza. Studente eis dat maatskappye en individue wat bande met Israel het, geboikot word. Sowat 34-duisend Palestyne is volgens berigte in Israelse aanvalle in Gaza dood. Hamas het meer as een-duisend-200 mense in Israel vermoor en meer as 200 gyselaar geneem. New York se burgemeester, Eric Adams, sê die betogings is deel van ʼn beweging om jongmense te radikaliseer:
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is by die Madrid Ope deur Andrey Rublev uitgeskakel. Die Rus was een stel agter, maar het met 4-6, 6-3 en 6-2 in die kwarteindronde geseëvier. Hy kom nou te staan teen die 12de gekeurde Amerikaner, Taylor Fritz, wat die Argentyn Francisco Cerundolo met 6-1, 3-6 en 6-3 geklop het. Jannik Sinner van Italië het met ʼn heupbesering aan die toernooi onttrek en sy teenstander in die kwarteindronde, die Kanadees Felix Auger-Aliassime, is deur na die halfeindronde. Rublev sê dit was spesiaal om Alcaraz te klop:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-470-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-317-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….