Nuus 13:00
BULLETIN 1 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nehawu vra eenheid en ‘n verskerpte stryd vir werkersregte
# Die Batebeslagleggingseenheid kry ‘n finale beslagleggingsbevel van R53-miljoen vir onwettige oordrag van staatsgrond
# En ontruiming gaan voort na die Ruang-vulkaan in Indonesië uitbars
# Die vakbond Nehawu vier internasionale Werkersdag met ‘n saluut aan werkers wêreldwyd. Die vakbond vra groter pogings om uitbuiting, privatisering en onregverdige werksomstandighede te beëindig. Nehawu fokus plaaslik op toenemende werkloosheid, armoede en ongelykheid en skryf dit toe aan neo-liberale beleide en ʼn trae ekonomie. Hulle sê werkers moet saamwerk en veg vir hulle regte en waardigheid. Nehawu sluit by die vakverbond Cosatu se Werkersdag-saamtrekke aan om te veg teen besnoeiingsmaatreëls en privatisering, vir universele basiese inkomstetoelaes en volle nasionale gesondheidsversekering.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die Batebeslagleggingseenheid ʼn finale beslagleggingsbevel van 53-miljoen-rand toegestaan. Dit het betrekking op staatsgrond wat onregmatig aan privaat instellings en individue oorgedra is. Die Spesiale Ondersoekeenheid het bedrieglike oordragte opgespoor wat tussen 2008 en 2022 in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming en die onderskeie aktekantore in Vryburg, Johannesburg en Pretoria gedoen is. Lumka Mahanjana van die Nasionale Vervolgingsgesag sê die beslagleggingsbevel onder die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad, is ʼn benadering om bates sonder skuldigbevindings terug te kry:
# Die DA in die Wes-Kaap se premierskandidaat, Alan Winde, het planne aangekondig om dié provinsie die eerste een sonder beurtkrag te maak. Hy beklemtoon die verwoestende uitwerking van beurtkrag op werksgeleenthede, die ekonomie en gemeenskapsveiligheid. Die Stad Kaapstad stel ook behoorlike beskermingsplanne in, en belê in netwerk-opgradering en hernubare-energieprojekte. Volgens Winde het die provinsie miljarde weens beurtkrag verloor wat ʼn omvattende benadering tot energie-veerkragtigheid vereis:
# Die Ruang-vulkaan in Indonesië het gister uitgebars en owerhede moes meer as 12-duisend mense van die nabygeleë Tagulandang-eiland verwyder. Owerhede het Ruang se waarskuwingstatus ná gister se uitbarsting tot die hoogste vlak verhoog. Hulle waarsku inwoners ook dat die vulkaniese materiaal wat die see instroom ʼn tsunami kan veroorsaak. Ruang-eiland is sowat 100 kilometer van die Noord-Sulawesi-provinsie se hoofstad, Manado. Indonesië is op die Stille Oseaan se sogenaamde Ring van Vuur geleë waar verskeie tektoniese plate bymekaarkom en seismiese aktiwiteit gereeld voorkom.
# En ten slotte krieket: Rishabh Pant is in Indiё se groep ingesluit vir die T20 Wêreldbeker in die Wes-Indiese Eilande en Amerika in Junie vanjaar. Dis sy eerste terug in internasionale krieket na ‘n gru-motorongeluk 16 maande gelede. Die 26-jarige paaltjiewagter-kolwer beïndruk steeds na sy terugkeer vanjaar tot elite krieket en het 398 lopies in 11 wedstryde in die Indiese Premierliga aangeteken. Rohit Sharma sal die span aanvoer met die omstrede onderkaptein, Hardik Pandya. Die veteraan paaltjiewagter, KL Rahul, moes plek maak vir Pant.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….