Nuus 11:00
BULLETIN 1 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen spog met die meeste geregistreerde kiesers
# Meer as 37-duisend staatsamptenare se salaris is meer as R1-miljoen per jaar
# En polisie voer ‘n klopjag uit op Columbia Universiteit-kampus om pro-Palestynse betogers te verwyder
# Die Verkiesingskommissie sê die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen het op 19-duisend-518 die meeste geregistreerde kiesers in die buiteland en onder alle kiesstasies. Tuis is dit Joubertpark waar sowat 15-duisend geregistreerde kiesers op 29 Mei mag stem. Suid-Afrikaanse kiesers in die buiteland kan op 17 en 18 Mei hul kruisie by diplomatieke sendings trek. Die uitvoerende verkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, sê kiesers moet stem waar hulle geregistreer is:
Intussen beskuldig die DA die ANC dat hy openbare fondse gebruik om sy party-agenda oorsee te bevorder en probeer om die oorsese stemmery te kaap. Die party beweer die ANC het ‘n party-politieke vergadering met staatsamptenare van die Suid-Afrikaanse Buitelandse Diens gehou en hulle opdrag gegee om ANC-kiesers oorsee te mobiliseer. ʼn DA-woordvoerder, Emma Powell, sê staatsamptenare word deur belastingbetalers betaal en moet alle landsburgers oorsee dien, ongeag hul politieke oortuigings. Sy vra die Verkiesingskommissie om op te tree teen diplomate wat by die vergadering betrokke was:
# Meer as 37-duisend staatsamptenare in die nasionale en provinsiale regerings se jaarlikse salarisse beloop meer as een-miljoen-rand per jaar. Dit sluit werkers by staatsondernemings en munisipale werkers uit. News24 sê die minister van Staatsdiens en Administrasie, Noxolo Kiviet, het bevestig 45,3-miljard-rand is tydens die 2023/2024-boekjaar aan hulle salarisse bestee. Dit sal na verwagting in die 2024/2025-boekjaar ná salarisverhogings tot 46,8-miljard-rand styg. In die 2023/2024-boekjaar alleen het 117 werkers meer as twee-miljoen-rand ontvang. Meer as 100-miljard-rand is bestee aan werknemers wat tot 327-duisend-819-rand per jaar ontvang. Die regering bestee tans ʼn derde van sy inkomste aan werkers se vergoeding.
# Die polisie het ʼn klopjag by die Columbia Universiteit uitgevoer en tussen 30 en 40 pro-Palestynse betogers gearresteer. Die betoging het begin toe studente die ingang na die Hamilton-saal op die kampus versper en ʼn Palestynse vlag by ʼn venster laat wapper het. Hulle het gesê hulle vernoem die gebou na Hind Rajab, ʼn sesjarige meisie wat in Februarie in ʼn aanval op Gaza dood is. Die klopjag volg ure nadat die burgemeester van New York Stad gesê het ʼn soortgelyke betoging by die Ivy League-instelling moet beëindig word.
# En ons eindig met rugby: Drie lede van die Springbokke se Wêreldbeker-groep sal Vrydag saam met die Webb Ellis-beker by die derde stilhouplek van die Wêreldbeker-blitstoer in Kimberley wees. Malcolm Marx, Duane Vermeulen en Deon Fourie neem die gesogte beker na die Noord-Kaap waar ‘n miernes van bedrywighede op hulle wag. Die Bokke sal die Diamond Pavilion-winkelsentrum aandoen voor hulle koers kies na die stadion in die stad vir die kragmeting tussen die boonste twee spanne in die SA Beker, die Griekwas en die Pumas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….