Nuus 17:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verkiesingskommissie waarsku teen fopnuus oor spesiale stemme vir diegene bo 60
# Die UDM sê Suid-Afrika moet mense bemagtig om entrepreneurs te kan word
# En, sokker: Swaargewig-kragmeting in Kampioeneliga-halfeind tussen gasheer Bayern München en Real Madrid
# Die Verkiesingskommissie waarsku teen fopnuus wat kiesers ouer as 60 aanraai om aansoek te doen om vroeёr te stem. ‘n Fopnuus-boodskap wat wyd versprei word, beweer diegene bo 60 kan ‘n vroeё stem by hulle stemlokaal uitbring. Spesiale stemme kan op 27 en 28 Mei uitgebring word en kiesers kan aanlyn aansoek doen, per SMS, of by hulle naaste OVK-kantoor aanklop. Aansoeke om spesiale stemme sluit Vrydag. Tuisbesoeke is vir diegene wat nie kan reis nie terwyl besoeke aan kieslokale beskikbaar is vir mense wat nie op 29 Mei kan stem nie.
# Die UDM se adjunkpresident, Nqabayomzi Kwankwa, sê Suid-Afrika se jaarlikse ekonomiese groei onder die ANC-regering het op minder as 1-persent stilgestaan, wat die werkloosheidskrisis vererger. Hy sê 5-persent van die land se bevolking van 61-miljoen kan nie werk moet verskaf aan 80-persent van die bevolking nie. Kwankwa sê indien ‘n omgewing gekweek word waar individue hulself as werkverskaffers kan vestig, kan Suid-Afrika ‘n meer regverdige en volhoubare ekonomie skep:
# Die internasionale voorspraak-organisasie, Global Citizen, wil later vanjaar ‘n ekonomiese beraad in Ivoorkus aanbied as deel van sy poging om energie-armoede in Afrika te verlig. Dit sal in samewerking met die Wêreldbank se Internasionale Ontwikkelingsvereniging gehou word. Die beraad ondersteun die Wêreldbank se IDA21-aanvulling om lewensomstandighede te verbeter en maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling in 75 lae-inkomstelande te ondersteun. Dit wil teen 2030 250-miljoen mense uit energie-armoede lig. Ongeveer die helfte van Afrika se bevolking het nie toegang tot elektrisiteit nie.
# Die Metropolitaanse Polisie in die Verenigde Koninkryk het bevestig ‘n 13-jarige seun is vanoggend dood in ‘n swaardaanval in Hainault in Oos-Londen. Vyf mense is beseer, waaronder twee polisiebeamptes. Die 36-jarige verdagte is binne minute na die aanval aangekeer, nadat hy met ‘n skokwapen onskadelik gestel is. Hy het voor die aanval met ‘n voertuig in ‘n huis vasgery. Die polisie sê die voorval word nie as terreurverwant hanteer nie.
# Sokker: Die halfeindstryde in die Kampioeneliga begin vanaand met Bayern München wat Real Madrid in Duitsland verwelkom. Real is hierdie seisoen onoorwonne in die kompetisie met sewe oorwinnings en drie gelykop. Bayern het die laaste vier gehaal na ‘n doelskopoorwinning teen die verdedigende kampioen. Manchester City. Bestuurder Thomas Tuchel glo Bayern moet op hulle heel beste wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-8-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-261-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-304-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….