Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mashatile vra vir ‘n gesamentlike poging om korrupsie te beёindig vir ekonomiese transformasie
# Die DA beweer kaderontplooiing verlam Noordwes-dienslewering
# En, rugby: Die Blitsbokke hoop Sage en Soyizwapi laat hulle geluk draai
# Adjunkpresident Paul Mashatile het Suid-Afrika se voortgesette strewe na ekonomiese vryheid en inklusiewe welvaart onderstreep. Hy het die konferensie van die African United Business Confederation in Sandton toegespreek en aangedring op eenheid oor sektore heen om die land se ekonomiese potensiaal te ontsluit. Met die klem op die hantering van sosio-ekonomiese uitdagings soos werkloosheid, armoede, ongelykheid en korrupsie, bestempel Mashatile korrupsie as die grootste bedreiging vir die demokrasie. Hy beklemtoon samewerking in die bekamping van korrupsie, pleit vir deursigtigheid, en goeie bestuur om ekonomiese groei te bewerkstellig:
# Die leier van die DA, John Steenhuisen, meen die interne twis binne die regerende ANC is die oorsaak van verswakkende dienslewering in Noordwes. Steenhuisen kritiseer die Noordwes-regering omdat hulle kwessies soos werkloosheid, watertekorte en swak paaie verwaarloos, en volgens hom ondernemings dwing om die provinsie te verlaat. Steenhuisen beskuldig die provinsiale regering dat hy traag is om in te gryp weens faksiegevegte binne die ANC. Hy beklemtoon die dringende behoefte aan doeltreffende bestuur om hierdie uitdagings aan te spreek en verdere ekonomiese agteruitgang te voorkom.
# Die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake het bevind eenhede van die Israelse weermag was by afsonderlike geleenthede skuldig aan growwe skendings van menseregte maar hulle sal steeds militêre steun van Amerika ontvang. Die voorvalle het voor die huidige oorlog buite Gaza plaasgevind. Washington is Israel se belangrikste militêre verskaffer en voorsien jaarliks wapens en verdedigingstelsels ter waarde van meer as 70-miljard-rand. Die aankondiging is die eerste van hierdie aard deur die Amerikaanse regering ten opsigte van enige Israelse eenheid.
# Rugby: Die terugkeer van die veterane, Dylan Sage en Siviwe Soyiswapi, dra heelwat ervaring by die Blitsbokke se veldtog by vandeesweek se Singapoer Sewes. Volgens SA Rugby is albei ou kalante met hulle loopbane van bykans ‘n dekade. Albei staatmakers maak hulle eerste verskyning in die 2024-seisoen en Soyiswapi is uiters opgewonde oor wat voorlê:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-6-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-527-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-314-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-63-sent per vat.
# Ten slotte: President Cyril Ramaphosa sê vanjaar se ontvangers van nasionale ordes, soos deur die mense gekies, sluit bekroondes in wat postuum erken word vir hul dapperheid en bydraes tot demokrasie, menseregte en kultuur. Die president het vandag in Pretoria nasionale ordes aan vooraanstaande Suid-Afrikaners en buitelanders toegeken vir hulle bydrae tot die bevordering van demokrasie. Ramaphosa het in sy hoofrede gesê die nalatenskap van die bekroondes dien as ‘n herinnering aan die moed en vasberadenheid wat nodig is om ‘n regverdige en inklusiewe samelewing te bou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….