Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 April
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Randse Raffinadery het twee-miljoen-rand bygedra tot sewe laer- en hoërskole in Gauteng. Die skenking sal opknappings en moderne opvoedkundige hulpmiddels befonds, wat ten doel het om skoolinfrastruktuur te verbeter, en noodsaaklike hulpbronne aan leerders te verskaf. Projekte sluit in die opknapping van sport-kleedkamers, klaskamers wat met tegnologie toegerus is en waardigheidspakkies vir leerders. Die onderneming beklemtoon gelyke leeromstandighede en ‘n holistiese opvoedkundige ervaring
# Die bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise, Thuso Mbedu, en komediant, akteur en filmmaker, Kagiso Lediga, is in ingesluit vir Disney se Mufasa: The Lion King. Dit is ‘n inleiding tot die 2019-herverwerking van The Lion King. Die Suid-Afrikaanse legende, John Kani, keer terug as Rafiki. Beyoncé vertolk die rol van koningin Nala, en haar dogter Blue Ivy is die stem van koning Simba se dogter, Kiara. Die nuwe rolprent, wat van 20 Desember in teaters draai, handel oor Mufasa se kinderjare saam met sy broer Scar.
# Die Kuns- en Kultuurtrust het die Tlholo-strokiesprentreeks bekendgestel wat waardevolle insigte en riglyne bied vir entrepreneurs in die kuns- en kultuursektor. Die reeks wat in al elf landstale beskikbaar is, volg die verhaal van Pule, ‘n entrepreneur wat ʼn sakeonderneming in die kuns- en kultuurbedryf wil begin, en die uitdagings wat hy teëkom. Die trust se uitvoerende hoof, Jessica Denyschen, sê hulle wil ʼn meer inklusiewe en ondersteunende kunsgemeenskap vir kunstenaars en kuns-entrepreneurs bevorder.
# Die Journey to Jazz-fees, ‘n skouspel deur die Prins Albert-gemeenskapstrust, begin môre in die Wes-Kaap en duur tot Sondag. Die fees word teen die agtergrond van die Swartberge gehou en belowe ‘n fees van musiek, meestersklasse en gemeenskapsbetrokkenheid. Vanjaar se kunstenaars sluit in die Mkhize-kwartet, die Amerikaans/Italiaanse Giovanni Guidi-trio en Adam Zanolini se Heliacal Rising of Sothis uit Amerika. Die trust sê hy hoop om die geskiedenis en prag van die woestyn by Prins Albert ten toon te stel.
# ’n Gesin in Amerika is met hul kieterkat herenig nadat sy per ongeluk in ‘n pakkie beland het wat teruggestuur is Kalifornië toe. Galeana se eienaars het dae lank hoog en laag gesoek nadat hul geliefde basterkat uit hulle huis in Utah verdwyn het. Sy is byna ‘n week later deur ‘n Amazon-werker gered nadat sy ongemerk in een van die gesin se pakkies gespring het. Haar eienaars het meer as een-duisend-600 kilometer gevlieg om hul troeteldier te gaan haal. Galeana was gelukkig nog fris en gesond al was sy ‘n paar dae sonder kos of water.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….