Nuus 14:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is………
In die bulletin:
# Mashatile dring aan op ekonomiese beleidsfokus vir ekonomiese groei
# Die DA sê Dingaan Thobela was ‘n inspirasie vir talle Suid-Afrikaners
# En, rugby: Die twintig-minuut-rooikaart in toetse kry teenkanting
# Adjunkpresident Paul Mashatile het ‘n beroep op politieke en regeringsleiers gedoen om beleid wat ekonomiese groei bevorder voorop te stel. Mashatile het tydens die African United Business Confederation-rondetafel in Sandton gepraat en klem gelê op samewerking om indiensneming en handel aan te spoor. Hy het die rol wat doeltreffende beleid in innovering en entrepreneurskap speel uitgelig en die privaat sektorleiers se verantwoordelikheid om hierdie eienskappe vir volgehoue groei te koester, beklemtoon:
# Die DA sê die Rose of Soweto, Dingaan Thobela, was meer as ‘n bokskampioen, hy was ‘n baken van hoop en inspirasie vir talle Suid-Afrikaners. Hy is afkomstig van Chiawelo, Soweto, en het deur blote vasberadenheid en ongeëwenaarde vaardigheid gesogtheid bereik en die harte van die nasie verower. Die DA-lid, Veronica van Dyk, sê sy merkwaardige loopbaan het hom drie wêreldtitels oor twee gewigsafdelings besorg, wat sy naam in die boksgeskiedenis-rekords geëts het:
# Suid-Afrikaanse Nasionale Parke het alle staproetes tussen Nuweland en Constantia Nek gesluit, insluitend roetes na Maclear’s Beacon en die agterkant van Tafelberg Nasionale Park. Dit is as gevolg van ‘n intense brand wat op ‘n uitdagende terrein waargeneem is. Hierdie sluiting strek tot roetes vanaf Kampsbaai tot Houtbaai as gevolg van oornag-opvlammings agter Newlands, Fernwoodpark, en Kirstenbosch-hange in die rigting van Oranjekloof. SANParke dring aan die sluitings moet nagekom word om brandbestrydingspogings te help. Tans is 40 brandbestryders ontplooi oor gebiede wat geraak is.
# Rugby: Frankryk, Engeland en Ierland is volgens berigte gekant teen Wêreldrugby en Sanzaar se planne om amptelik ‘n rooi kaart van 20 minute in toetsrugby in te stel. SA Rugby ondersteun die voorstel. Dit word sedert 2020 in Super Rugby gebruik, waar ʼn span toegelaat word om ʼn speler met ʼn rooi kaart teen hom na 20 minute te vervang. Vyf-en-sewentig-persent van die raad sal ten gunste daarvan moet stem voordat Sanzaar die reël kan instel. Dit sal deel wees van vanjaar se Rugbykampioenskap.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-5-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-639-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-317-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-37-sent per vat.
# Ten slotte: Die Journey to Jazz-fees, ‘n skouspel deur die Prins Albert-gemeenskapstrust, begin môre in die Wes-Kaap en duur tot Sondag. Die fees word teen die agtergrond van die Swartberge gehou en belowe ‘n fees van musiek, meestersklasse en gemeenskapsbetrokkenheid. Vanjaar se kunstenaars sluit in die Mkhize-kwartet, die Amerikaans/Italiaanse Giovanni Guidi-trio en Adam Zanolini se Heliacal Rising of Sothis uit Amerika. Die trust sê hy hoop om die geskiedenis en prag van die woestyn by Prins Albert ten toon te stel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….