Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 April 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Kenners voorspel ‘n warm winter vir ‘n groot deel van Suid-Afrika, weens die voortslepende El Niño-klimaatspatroon. El Niño-verwante klimaat word gekenmerk deur bo-gemiddelde temperature en baie laer reënval gedurende die November-April-seisoen. ‘n Klimaatwetenskaplike, Peter Johnston, het aan die SABC gesê verwagtinge vir die land dié winter sal hoër temperature en minimum reënval in sommige streke insluit:
# Die Tshwane-burgemeester sê hulle gaan die #Tswelopele-skoonmaakveldtog verskerp, wat inwoners aanmoedig om onwettige storting te stop. Cilliers Brink sê die metro bestee sowat 30-miljoen-rand per jaar om onwettige storting op te ruim. Hy sê gemeenskappe moet weet wátter voordele ‘n skoon omgewing inhou en beklemtoon ook innoverende metodes, soos vermindering, herwinning, of hergebruik van afvalmateriaal.
# En laastens: Volgens die International Organisation of Vine and Wine het wêreldwye wynproduksie verlede jaar met tien-persent gedaal, die grootste daling in 62 jaar. Australië en Italië het die ergste dalings beleef, met onderskeidelik 26-persent en 23-persent. Spanje het ook gely en meer as ‘n vyfde van sy produksie verloor. Ten spyte van ‘n vier-persent styging in Frankryk, het algehele verbruik gedaal, gedryf deur faktore soos inflasie en ‘n verminderde aanvraag uit China. Klimaatsverandering hou steeds ‘n wesenlike bedreiging in en die toekoms van wynproduksie bly dus onseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….