Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 April 12.30 vm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val vandag weg met rugby: Glasgow Warriors is die nuwe voorlopers op die Verenigde Rugby-kampioenskap-punteleer, nadat hulle Leinster verbygesteek het. Leinster is nou slegs een punt voor die heersende kampioen, Munster, wat agtereenvolgende bonuspunt-oorwinnings in Suid-Afrika behaal het deur die Leeus te klop. Die Bulle lei die Suid-Afrikaanse spanne op die punteleer in die vierde plek, die Stormers is vyfde, die Leeus elfde, en die Sharks in die 13de plek onder die 16 spanne.
# Vervolgens, krieket: Die Lions het met sewe paaltjies op die Wanderers in Johannesburg oor die Dolphins geseëvier om as die KSA T20-uitdaagkampioen gekroon te word. Jason Smith het ‘n 50-tal aangeteken en die Dolphins is tot 165 vir agt beperk met Codi Yusuf en Bjorn Fortuin wat elk twee paaltjies geneem het. Reeza Hendricks het geantwoord met ‘n onoorwonne 73 en Wiaan Mulder het ‘n onoorwonne 55 gemoker en die Lions se oorwinning verseker.
Nog krieket: Pakistan het Suid-Afrika se oud-kolwer, Gary Kirsten, as die mans se eendagwedstryd- en T20-afrigter aangestel. Die 56-jarige Kirsten het tussen 1993 en 2004 in 101 toetse en 185 eendagwedstryde vir die Proteas gespeel voordat hy Indië afgerig het om in 2011 die eendag-wêreldbeker te wen. Hy rig tans die Gujarat Titans in die Indiese Premierliga af. Die gewese Australiese snelbouler, Jason Gillespie, is aangestel om Pakistan se toetsspan af te rig. Kirsten se eerste taak is volgende maand se T20-reeks teen Engeland.
# Dit bring ons by gholf: Manon De Roey van België het die Suid-Afrikaanse Ope vir Vroue by die Erinvale-gholflandgoed met vier houe gewen om haar tweede titel in die Dames Europese Toer op te raap. Die 32-jarige Belg het die laaste ronde met ‘n voorsprong van drie houe begin en uiteindelik op 72 geëindig vir ʼn algehele oorwinning op 14 onder baansyfer. Gabriella Cowley van Engeland en die Nieu-Seelander, Momoka Kobori, was gelykop tweede op tien onder baansyfer. Nicole Garcia was die voorste Suid-Afrikaner wat op agt onder baansyfer in die vierde plek klaargemaak het.
# En, ons sluit af met rugby: Die voormalige kaptein van Skotland, Stuart Hogg, het bekend gemaak dat hy tyd in ʼn rehabilitasiesentrum deurgebring het nadat die polisie hom aangekla het in verband met ʼn voorval in die Skotse grensgebied. Hogg, wat die meeste drieë ooit vir Skotland gedruk het, het in 2023 net voor die Rugby-wêreldbeker sy uittrede aangekondig en gesê hy wil ʼn nuwe loopbaan begin. Hogg het Skotland 100 keer verteenwoordig en drie keer saam met die Britse en Ierse Leeus getoer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….