Nuus 07:00
BULLETIN 29 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cele sê pogings word aangewend om die toename in politieke moorde te hanteer
# Bantu Holomisa stel himself beskikbaar as Oos-Kaapse UDM-premierkandidaat
# En altesaam 158 staatsamptenare in die nasionale regering word ten volle betaal terwyl hulle geskors is
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, sê volgende maand se verkiesing sal binne die betrokke voorskrifte van die wet hanteer word en beamptes sal dit ooreenkomstig afdwing. Die minister was gister deel van die Justisie-, Misdaadvoorkoming- en Veiligheidsgroepering se inligtingsessie. Cele sê onder die pogings wat aangewend word, is die aanwys van ‘n spesiale taakspan om die toenemende politieke moorde in die land te hanteer:
Intussen gaan die leier van die UDM, Bantu Holomisa, as die Oos-Kaapse premierskandidaat aan die verkiesing deelneem. Die adjunk-president van die party, Nqabayomzi Kwankwa, sê tradisionele leiers, godsdiensgroepe, burgerlike organisasies en talle individue het herhaaldelik druk op Holomisa uitgeoefen om as kandidaat te staan. Dit is ook die wens van die partystrukture in die provinsie:
# Die minister van Staatsdiens en Administrasie, Noxolo Kieviet, het onthul 158 staatsamptenare in die nasionale regering het tussen 2019 en vanjaar altesaam 21,8-miljoen-rand aan salarisse ontvang terwyl hulle geskors is. Sy het op vrae van die DA gereageer. Nog 237 geskorste amptenare in provinsiale regerings het in totaal 107-miljoen-rand ontvang. Die amptenare is geskors weens bewerings wat wissel van bedrog en korrupsie tot teistering. Kieviet het ook onthul staatsamptenare het in dieselfde tydperk byna drie-miljard-rand se aansporings ontvang wat prestasiebonusse en 13de tjeks insluit.
# ‘n Veertigjarige verdagte gaan vandag in die Lulekani Landdroshof in Limpopo verskyn in verband met verskeie verkragtingsake tussen Oktober verlede jaar en Januarie vanjaar. Hy is Donderdag aangekeer na hy aan ses aparte sake in Lulekani, Phalaborwa en Hoedspruit verbind is. ‘n Polisiewoordvoerder, Hlulani Mashaba, sê die verdagte het na bewering saamrygeleenthede aan slagoffers by duimryplekke en bushaltes aangebied:
# Die minderheidsleier in die Amerikaanse Senaat, Mitch McConnell, het herhaal voormalige presidente, insluitend Donald Trump, is nie gevrywaar van strafregtelike vervolging nie. Die Hooggeregshof besluit tans of Trump geregtig is op omvattende vrywaring van federale vervolging. Dit hou verband met die vier aanklagte wat hy in die gesig staar oor pogings om die 2020-verkiesingsuitslag om te keer. McConnell, wat ʼn senior Republikein is, sê oudpresidente is nie gevrywaar van aanspreeklikheid voor die strafregstelsel of van siviele vervolging nie.
# Gholf: Manon De Roey van België het die Suid-Afrikaanse Ope vir Vroue by die Erinvale-gholflandgoed met vier houe gewen om haar tweede titel in die Dames Europese Toer op te raap. Die 32-jarige Belg het die laaste ronde met ʼn voorsprong van drie houe begin en uiteindelik op 72 geëindig vir ʼn algehele oorwinning op 14 onder baansyfer. Gabriella Cowley van Engeland en die Nieu-Seelander, Momoka Kobori, was gelykop tweede op tien onder baansyfer. Nicole Garcia was die voorste Suid-Afrikaner wat op agt onder baansyfer in die vierde plek klaargemaak het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-76-dollar-45-sent. Die prys van goud is twee-duisend-328-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….