Nuus 14:00
BULLETIN 26 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA stel oplossings bekend vir ekonomiese hervorming
# Die Chinese president sê China en VSA moet vennote wees, nie teenstanders nie
# En, ‘n groep jong wetenskaplikes van Suid-Afrika is op pad na Duitsland
# Die DA het ‘n nuwe ekonomiese beleid bekendgestel om Suid-Afrika se ernstige werkloosheidskrisis aan te pak. Die beleid, wat daarop gemik is om tussen twee-miljoen en drie-miljoen nuwe werksgeleenthede te skep, fokus op die verbetering in die gemak om sake te doen, om beter fiskale keuses te maak en die hervorming van arbeidsbeleide. DA-leier John Steenhuisen het op ‘n nuuskonferensie die hoë vlakke van werkloosheid beskryf as ‘n mensgemaakte ramp wat die ANC veroorsaak het. Steenhuisen het kiesers aangemoedig om die DA se plan te ondersteun:
Statistieke Suid-Afrika het intussen ‘n belowende neiging in sakeherstel aangeteken, te midde van ekonomiese uitdagings. Likwidasiegevalle het in Maart met 30 tot 138 afgeneem, wat ‘n jaarlikse-afname van 17,9-persent beteken. Die sluitingskoers vir beslote korporasies en maatskappye bly egter hoog. Onica Mushwana van Statistieke SA sê daar was 138 likwidasies in Maart, wat 13 verpligte en 125 vrywillige likwidasies behels. Onder hulle het 66 maatskappye en 72 beslote korporasies hul bedrywighede gestaak:
# Die Chinese president, Xi Jinping, het aan die top-Amerikaanse diplomaat, Antony Blinken, gesê die wêreld se twee grootste ekonomieë moet vennote wees, nie teenstanders nie. Blinken het vir die tweede keer in minder as ‘n jaar vooraanstaande Chinese politici in die hoofstad Beijing ontmoet. Amerikaanse amptenare het gesê hy sal belangrike verskille opper, insluitend Rusland, Taiwan en die kwessie rondom handel. Xi het Blinken in Beijing ontmoet en gesê die twee lande het positiewe vordering gemaak sedert hy verlede jaar met die Amerikaanse president, Joe Biden, vergader het.
# Swem: Die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport, oftewel WADA, sê hy sal met ‘n onafhanklike hersiening begin rakende die saak teen 23 Chinese swemmers wat van die gebruik van opkikkers vrygespreek is. Die swemmers het in 2021 positief getoets vir die verbode hartmiddel trimetazidien, maar is deur die Chinese agentskap-teen-opkikkergebruik vrygespreek. Die wêreldliggaam sê hy het die argument van Chinese owerhede aanvaar dat die saak deur voedselbesmetting veroorsaak is. WADA sê hy is onregverdig beskuldig dat hy China voortrek deur nie by die Hof van Arbitrasie vir Sport te appelleer nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-99-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-365-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-348-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-13-sent per vat.
# En, laastens: ‘n Groep jong Suid-Afrikaanse wetenskaplikes is gekies om die 73ste vergadering van die Lindau Nobel-pryswenners in Duitsland by te woon. Die vergadering is ‘n geleentheid vir jong wetenskaplikes oor die wêreld heen om gesprekke met Nobelpryswenners te voer oor navorsing en algemene loopbaankwessies. Een van die jongmense, doktor Bambesiwe May, het aan Unisa studeer en het verlede jaar die gesogte toekenning as Suid-Afrikaanse Vrou in Wetenskap ontvang. May sê die besoek is ‘n fantastiese geleentheid vir haar loopbaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….