Nuus 12:00
BULLETIN 26 April 12 nm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA kritiseer die ANC se besluit om te appelleer teen die kaderontplooiingbeslissing
# Anglo American sê BHP se aanbod vir oorname is opportunisties en hoogs onaantreklik
# En, die voormalige Bok-kaptein Adriaan Strauss behaal sy graad met onderskeiding
# Die DA het die ANC se besluit gekritseer, om teen ‘n beslissing van die Gautengse Hooggeregshof te appelleer. Die hof het die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, en partybeampte Thapelo Masilela aan minagting van die hof skuldig bevind. Hulle het rekords van die party se nasionale kaderontplooiing teruggehou ná ʼn vroeëre bevel wat deur die Konstitusionele Hof bekragtig is. Leon Schreiber van die DA sê die ANC se appèl wys hy vrees die gevolge wanneer president Cyril Ramaphosa se aandadigheid aan kaderontplooiing-korrupsie ontbloot word:
# Anglo American het die globale mynreus, BHP, se voorgestelde oorname verwerp en sê dis opportunisties en ʼn groot onderwaardering van die maatskappy. Die Australiese mynmaatskappy het ʼn totale aandele-oorname van Anglo American voorgestel en die waarde op 740-miljard-rand beraam. Die ooreenkoms hang af van die ontbondeling van Anglo American Platinum en Kumba Iron Ore. Anglo American se voorsitter, Stuart Chambers, sê BHP se aanbod sal hoogs onaantreklik vir aandeelhouers wees en onsekerheid en risiko skep wat deur die maatskappy gedra sal moet word.
# Japan se kabinet het wetgewing goedgekeur wat groot boetes aan tegnologie-reuse soos Google en Apple moontlik sal maak vir hul blokkering van toegang tot slimfone se derdeparty-toepassings en betaalstelsels. Teen-mededingende gedrag sal, net soos die Europese Unie se nuwe Wet op Digitale Markte, boetes van tot 20-persent van hul inkomste in Japan moontlik maak. Die wetgewing, waaroor parlementslede moet debatteer, sluit in dat die maatskappye regverdig moet optree en bedryfstelsels, internetsnuffelprogramme en soekenjins vir almal beskikbaar moet maak.
# Gholf: Die major-kampioen Tiger Woods se 15-jarige seun, Charlie, het ‘n rondte van 81 houe gespeel en kan nie meer vir die Amerikaanse Ope kwalifiseer nie. Woods junior was onder 84 spelers wat vir die plaaslike kwalifiseringstoernooi in Florida ingeskryf het. Die topvyf gaan deur na die 36-putjie-kwalifiseerder in Junie. Hy was een van tien-duisend-84 gholfspelers wat aan plaaslike kwalifiseringstoernooie deelneem vir een van die 80 plekke om in Junie aan die Amerikaanse Ope by Pinehurst deel te neem.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-367-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-344-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-88-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die gewese Springbok-kaptein en die Cheetahs en Bulle se haker, Adriaan Strauss, het sy meestersgraad in bedryfsadministrasie aan die Noordwes-universiteit met onderskeiding geslaag. Hy het in 2022 vir sy MBA by die universiteit se sakeskool ingeskryf. Strauss sê hy sal sy reis in die akademiese wêreld vir niks verruil nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….