Nuus 09:00
BULLETIN 26 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema herhaal sy standpunt dat die EFF die amptelike opposisie gaan word
# Minister Lamola is besluiteloos oor ‘n ondersoek na die beweerde inmenging in die vervolging van WVK-sake
# En die omkeer van Harvey Weinstein se skuldigbevinding aan verkragting word gekritiseer
# Die EFF-leier, Julius Malema, sê indien die party nié die algemene verkiesing aanstaande maand wen nie, moet hy die amptelike opposisie word. Hy het studente van Wits se Skool vir Regeerkunde gister toegespreek. Die EFF het in die 2019-verkiesing tien persent van die stemme ontvang en is die derde grootste opposisieparty. Malema sê met vooruitskouings dat die ANC minder as 50-persent gaan behaal, kan hy die EFF nodig kry:
# Die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, sê hy oorweeg al sy opsies oor aanbevelings om ‘n kommissie van ondersoek aan te stel. Die doel is om beweerde politieke inmenging by die vervolging van sake van die Waarheids- en Versoeningskommissie tussen 2003 en 2017 te ondersoek. In ʼn oorsig deur die gewese WVK-kommissaris, Dumisa Ntsebeza, word verdoemende bevindings teen die Nasionale Vervolgingsgesag gemaak. Lamola sê dis onmoontlik om sonder ʼn polisieondersoek of ondersoekkomitee te bepaal of daar struikelblokke of inmenging was.
# Gauteng se LUR vir Vervoer en Logistiek, Kedibone Diale-Tlabela, verwelkom vordering om die geskil tussen die Witwatersrand African Taxi Association en Nancefield Dube-Wes-taxivereniging in Soweto te beëindig. Die departement probeer ʼn bemiddelaar aanstel om die kwessie oor roetes tussen die twee verenigings op te los. ʼn Woordvoerder van die departement, Lesiba Mpya, sê hulle hoofdoel is om stabiliteit op die betrokke roetes te herstel en die onsekerheid wat pendelaars in die gesig staar, uit te skakel:
# Die Hollywood-aktrise Ashley Judd sê die tersydestelling van rolprentmagnaat Harvey Weinstein se 2020-skuldigbevinding aan seksmisdade, is onregverdig teenoor slagoffers. Sy was van die eerstes wat bewerings teen hom gemaak het. New York se hoogste hof het opdrag gegee vir ʼn nuwe verhoor nadat regters aangevoer het daar was foute in die manier waarop sy verhoor plaasgevind het. Die Oscar-wenner, Mira Sorvino, beweer Weinstein het haar seksueel geteister voordat hy haar loopbaan onderdruk het. Sy sê sy is met afsku vervul oor die regstelsel skuldiges bo slagoffers stel.
# Sokker: Die punteverskil tussen die heersende Premierliga-kampioen, Manchester City, en die voorlopers, Arsenal, is slegs een punt met nog een wedstryd oor vir Manchester nadat hulle Brighton in die Amex-stadion met vier-nul geklop het. Doele deur Kevin de Bruyne en Julian Alvarez en twee deur Phil Foden het die sege verseker. Manchester het nou 30 wedstryde agtereenvolgens gewen. Die bestuurder, Pep Guardiola, sê hy weet die wedloop is nog nie verby nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-285-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-335-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….