Nuus 08:00
BULLETIN 26 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party sê die Veelparty Handves se maatskaplike hulpverleningsraamwerk is ’n belediging
# Solidariteit kritiseer Panyaza Lesufi se kommentaar oor die Nasionale Gesondheidsversekering
# En die Amerikaanse Hooggeregshof sal waarskynlik nie Trump se versoek toestaan vir absolute immuniteit teen vervolging nie
# Die GOOD-party sê die DA-geleide Veelparty-handves se raamwerk vir maatskaplike verligting is leë beloftes. Die handves sê die raamwerk verseker sosio-ekonomiese ontwikkeling wat nodig is om die kringloop van armoede ongelykheid en honger te verbreek. Die GOOD-party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die raamwerk wat 30 beloftes bevat, is nie gebaseer op ‘n ware verbintenis om armoede aan te spreek nie:
# Solidariteit het Gauteng se premier, Panyaza Lesufi, veroordeel vir sy beloftes oor die Nasionale Gesondheidsversekeringskema. Hy het vroeër die week tydens ʼn verkiesingsveldtog in Diepsloot, Johannesburg, belowe enige persoon wat vir die ANC stem, sal in enige privaat gesondheidsfasiliteit kan instap en gratis mediese sorg kry. Theuns du Buisson van Solidariteit sê Lesufi se opmerkings kan nie net as blote verkiesingspraatjies afgemaak word nie omdat dit ernstige gevolge kan inhou:
# Die Amerikaanse Hooggeregshof het oudpresident Donald Trump se breë argument dat hy absolute vrystelling van strafregtelike vervolging moet kry, bevraagteken. Trump word van vier strafregtelike oortredings aangekla oor pogings om die 2020-verkiesingsuitslag om te keer. Die voormalige president voer aan hy was immuun teen alle aanklagte omdat hy volgens hom bloot sy plig as president nagekom het. Regter Ketanji Brown Jackson sê sy is diep bekommerd dat as sy immuniteit toestaan, toekomstige presidente misdade kan pleeg en dan agter hulle amp skuil.
# Tennis: Die vyfmalige kampioen, Rafael Nadal, is deur na die tweede ronde van die Madrid Ope. Die Spanjaard wat aan die einde van die seisoen wil uittree, het die 16-jarige Amerikaanse loslootjie, Darwin Blanch, met 6-1 en 6-0 verpletter. Nadal speel volgende teen die Australiër, Alex de Minaur, wat hom verlede week in die Barcelona Ope se tweede ronde verslaan het. Die Kanadees Felix Auger-Aliassime het Yoshihito Nishioka van Japan met 4-6, 6-1 en 6-4 kafgedraf. Nadal sê dis emosioneel om die laaste keer in Madrid te speel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-406-dollar-44-sent. Die prys van goud is twee-duisend-332-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-99-sent per vat.
# En ter afsluiting, owerhede in Namibië het drie manlike toeriste veroordeel wat naak poseer het by een van die land se top-besienswaardighede, die Big Daddy-duin in die Namib-woestyn. Besoekers en die Federasie van Namibiese Toerismeverenigings vra dat daar teen die sondebokke opgetree word omdat sulke gedrag toerisme kan benadeel en die land se beeld aantas. Volgens berigte kan die drie toeriste moontlik op die swartlys geplaas word en verbied word om enige van Namibië se parke te besoek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….