Nuus 18:00
BULLETIN 25 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is bekommerd oor Eskom se buitensporige dieselverbruik
# ‘n Hof beveel ‘n nuwe verhoor vir die Hollywood-vervaardiger Harvey Weinstein
# En, rugby: Die Varsitybekerkompetisie se gebruik van nuwe duikslaghoogtes veroorsaak minder harsingskudding
# Die DA het kommer uitgespreek oor Eskom se buitensporige dieselverbruik, wat die jaarlikse begroting van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente oortref. Die nasionale woordvoerder vir Openbare Ondernemings, Mimmy Gondwe, wys op minister Pravin Gordhan se onthulling oor Eskom wat oor ‘n tydperk van vyf-jaar 65-miljard-rand aan diesel bestee het vir sy oopsiklus-gasturbines. Sy kritiseer die onvolhoubare vlakke van dieselgebruik en sê dit het gelei tot die Nasionale Energiereguleerder se dubbelsyfer-tariefverhogings aan verbruikers:
# President Cyril Ramaphosa het die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika geloof vir sy pogings om saam met lugrederye toeganklikheid vir mense met gestremdhede te verbeter. Dit sluit in aangewese parkering, hulpsitkamers en privaat deursoekingsgeriewe. Ramaphosa het gepraat op die vervoerspitsberaad oor universele toeganklikheid in Ekurhuleni, Gauteng. Hy sê die program toon ‘n verbintenis aan inklusiwiteit, en verseker gelyke toegang vir almal, ongeag hulle fisiese vermoëns:
# Die hoogste hof in New York het vandag die Hollywood-vervaardiger Harvey Weinstein se skuldigbevinding aan seksmisdade in 2020 omgekeer en opdrag gegee vir ‘n nuwe verhoor. Regters kritiseer die manier waarop die verhoor hanteer is, wat die toelating ingesluit het van vroue wat nie deel was van die aanklagte teen hom nie. Dit is ‘n ommekeer van die grondliggende saak van die #MeToo-era. Die direkteur van die Women’s Equal Justice-projek, Jane Manning, sê dit is ‘n skokkende en teleurstellende dag vir oorlewendes van seksuele aanranding.
Nog nuus uit Amerika: Die polisie het nog honderde betogers regoor die land in hegtenis geneem terwyl betogings teen die oorlog in Gaza op talle universiteitskampusse toeneem. Sowat 108 mense is aangekeer op Emerson College se kampus in Boston, terwyl 93 pro-Palestynse betogers vroeër by die Universiteit van Suid-Kalifornië in Los Angeles in hegtenis geneem is op betredingsaanklagte. Betogers en die polisie het ook gebots by die Universiteit van Texas in Austin, met 34 mense wat aangekeer is. Die jongste optrede volg op dié by die Universiteite van Columbia, Yale en New York.
# Rugby: SA Rugby het almal betrokke by die Varsity-bekerkompetisie gelukgewens met hulle benadering tot die nuwe duikslaghoogte-reëls wat vanjaar ingestel is, en sê dit het gelei tot minder harsingskudding en minder strafskoppe vir hoogvatte. Spelers word net toegelaat om aan die onderkant van die borsbeen of laer te plettervat. Uitvoerende hoof Rian Oberholzer sê afrigters en spelers het hard gewerk om die korrekte, veilige en doeltreffende duiktegniek te bemeester, en skeidsregters het dit toegepas. Hy sê sulke projekte sukkel aanvanklik, maar maak die spel veiliger.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-671-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….