Nuus 17:00
BULLETIN 25 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Voertuie, vuurwapens en kontant is onder die items in Markus Jooste se testament
# Die Gesondheidsdepartement het die regte van die Enyobeni-taverne-slagoffers se gesinne geskend
# En krieket: Die Warriors en die Dolphins pak mekaar vir ‘n plek in die eindstryd van die KSA T20 teen die Lions
# Die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, het in sy testament onder meer drie vuurwapens, agt voertuie en 74-duisend-rand nagelaat aan sy weduwee en enigste erfgenaam, Ingrid Jooste. Dit is ingedien in Grabouw in die Wes-Kaap. Daar is egter onsekerheid weens ‘n boete van 475-miljoen-rand wat die Gedragskode vir die Finansiële Bedryf Jooste kort voor sy dood opgelê het vir misleidende finansiële state. News24 berig die Reserwebank het bates in die testament bevries. Van Jooste se vermeende voormalige minnares, Berdine Odendaal, se bates is ook in beslag geneem.
# Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se verslag oor die Enyobeni-kroegtragedie dui aan die Departement van Gesondheid het die reg op waardigheid van die slagoffers se families geskend. Een-en-twintig tieners het in 2022 in die taverne gesterf tydens ‘n penne-neersit partytjie. Kommissaris Nomahlubi Khwinana kritiseer die departement vir die verskaffing van onduidelike verslae rondom die oorsake van die sterftes, wat verwarring en benoudheid onder gesinne veroorsaak het:
# President Cyril Ramaphosa het die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika geloof vir sy pogings om saam met lugrederye toeganklikheid vir mense met gestremdhede te verbeter. Dit sluit in aangewese parkering, hulpsitkamers en privaat deursoekingsgeriewe. Ramaphosa het gepraat op die vervoerspitsberaad oor universele toeganklikheid by die Birchwood konferensiesentrum in Ekurhuleni, Gauteng. Hy sê die program toon ‘n verbintenis aan inklusiwiteit, en verseker gelyke toegang vir almal, ongeag hulle fisiese vermoëns:
# Die regering van die Amerikaanse president, Joe Biden, het omvattende planne afgehandel om aardverwarmende uitlatings by die land se fossielbrandstof-aanlegte te beperk as deel van pogings teen die klimaatskrisis. Die reëls word geloof as onder die mees ingrypende metodes ooit vir die verlaging van kweekhuisgasse in die kragsektor. Dit vereis dat bestaande steenkool-aangedrewe aanlegte en die nuwe hoëvermoë gas-aangedrewe stasies hulle koolstofdioksied-uitlating met 90-persent verlaag. Dit gebeur terwyl Biden voor nog ‘n moeilike verkiesingstryd met Donald Trump staan, met klimaatsoptrede wat beskou word as die sleutel om jong en progressiewe kiesers te lok.
# Krieket: Die Warriors en die Dolphins sê mekaar vanaand in Durban die stryd aan in die tweede halfeindstryd van die KSA T20-uitdaging. Die wenner kom te staan teen die Lions, wat gisteraand ‘n tuis-eindstryd ingepalm het met ‘n oortuigende oorwinning oor die Titans. Die Warriors het deurgedring na die uitklopronde, al het hulle die laaste vier wedstryde verloor. Hulle kaptein, Matthew Breetzke, sê enigiets kan in ‘n halfeindstryd gebeur:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-en-14-dollar-77-sent. Die prys van goud is twee-duisend-322-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….