Nuus 14:00
BULLETIN 25 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement oorweeg die wysiging van die Wet op die SAPD vir die bemagtiging van metropolisie-ondersoeke
# Die Oos-Kaapse Gesondheidswoordvoerder kry borgtog vir vermeende bedrog en vervalsing
# En, sokker: Manchester City se Haaland word uitgesluit van die botsing met Brighton
# Die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Polisie, Albert Seabi, het planne onthul om die Wet op die Suid-Afrikaanse Polisiediens te wysig om die metropolisie ondersoekende magte te gee. Dit volg op samesprekings oor metropolisiedepartemente se moontlike rol in ondersoeke. Die stap stem ooreen met die Hoofstuk 4-witskrif oor Wetstoepassing, gemik op ‘n regulatoriese raamwerk vir metropolisie-ondersoekmagte. Die wysiging wil vervolgingsvermoë versterk deur aandag te gee aan uitdagings in verkeers- en verordenings-afdwinging.
# Die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement sê hy verwelkom enige poging wat goeie en skoon regering bevorder. Dit volg nadat die departement se woordvoerder, Sizwe Kupelo, gister op borgtog van 30-duisend-rand vrygelaat is nadat hy in die Zwelitsha-landdroshof verskyn het op aanklag van bedrog en vervalsing. Die Valke se woordvoerder, Ndiphiwe Mhlakuvana, sê Kupelo het in Maart 2002 aansoek gedoen vir die pos van kommunikasiebeampte by die premier se kantoor en is die volgende maand aangestel:
# AfriForum sê voorstanders van die Nasionale Gesondheidsversekering skep ’n verwronge prentjie van private gesondheidsorg in Suid-Afrika, om dit as die enigste oplossing voor te hou. Die Wetsontwerp op die NGV, wat ‘n raamwerk voorsien vir die verskaffing van universele sorg deur ‘n staatsbeheerde fonds, is op president Cyril Ramaphosa se lessenaar om as wet bekragtig te word. Louis Boshoff van AfriForum sê die instelling van die NGV kan klinieke wat armer gemeenskappe bedien, in gevaar stel:
# Sokker: Manchester City se stryd om die Premierliga-titel het ‘n knou gekry na die weglating van die Noorweegse doelskieter Erling Haaland uit vandag se deurslaggewende kragmeting in Brighton. Haaland het ook Saterdag City se een-nul-oorwinning oor Chelsea in die FA-beker-halfeindstryd op Wembley misgeloop. Hy het verlede week ‘n spierbesering opgedoen in die Kampioeneliga-kwarteindstryd teen Real Madrid. Haaland is City se voorste doelskieter en het dié seisoen reeds 20 Premierliga-doele aangeteken. Die span hoop hy sal herstel om die gaping tussen hulle en die voorlopers, Arsenal, te help vernou.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-569-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-325-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-2-sent per vat.
# En, Nedbank se jongste verslag oor die stand van die ekonomie voorspel werknemers kan vanjaar ‘n mate van verligting verwag, aangesien salarisverhogings inflasie sal oortref ná twee jaar van tekorte. BusinessTech berig salarisverhogings sal na verwagting teen ‘n gemiddeld van 6,9-persent styg. Terselfdertyd sal inflasie waarskynlik gemiddeld vyf-persent wees, wat ‘n reële verhoging van 1,9-persent is en ‘n effense blaaskans bied vir huishoudings wat finansieel sukkel. Ondanks die geskatte salarisgroei kan uitdagings soos werksverliese en hoë rentekoerse egter die finansiële verligting vir Suid-Afrikaanse huishoudings beperk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….