Eko-minuut 13:30
BULLETIN 23 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Vaardighede is ‘n belangrike vereiste vir die beleggingsplan vir billike energieoordrag. Dit is volgens Joanne Yawitch van die JET-projekbestuurseenheid in die Presidensie. Drie vaardigheidontwikkeling-sones vir billike energie-oordrag word voorgestel en fokus op hernubare bronne en netwerke, elektriese voertuie, en groenwaterstof-waardekettings. Yawitch sê die regering se JET-eenheid sit die behoefte uiteen aan belegging ter waarde van 1,5-duisend-miljard-rand tussen 2023 en ’27 om die land se koolstofvrystelling te verminder.
# Die Buro vir Internasionale Herwinning se jongste standpunt-dokument oor chemiese herwinning pleit dat meganiese herwinning as voorkeurmetode op ‘n groot skaal bly, en vra ook dat chemiese herwinning slegs gebruik word vir moeilik-herwinbare plastiek. Die buro se direkteur-generaal, Arnaud Brunet, sê beleid moet fokus op die uitskakeling van moeilik-herwinbare plastiek en op die aansporing van die ontwerp van plastiek vir hergebruik of meganiese herwinning, om sodoende die vereiste vir nuwe hulpbronne te verminder.
# En, die Wêreld Ekonomiese Forum se jongste verslag, Quantifying the Impact of Climate Change on Human Health, voorspel 14,5-miljoen mense sal teen 2050 weens klimaatverwante oorsake sterf. Die verslag voorspel ook dat 79-persent van die wêreld se toekomstige bevolking om dieselfde rede teen 2050 aan siektes sal ly. Ses klimaat-gedrewe kategorieë word uitgelig: oorstromings, droogtes, hittegolwe, tropiese storms, veldbrande en stygende seevlakke.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….