Nuus 13:00
BULLETIN 23 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Opname voorspel salarisverhogings sal inflasie oortref in 2024
# Rugby: Soyizwapi en Sage keer terug na die Blitsbokke in Singapoer
# En Taylor Swift se nuwe album laat die rekords spat
# Nedbank se jongste verslag oor die stand van die ekonomie voorspel werknemers kan vanjaar ‘n mate van verligting verwag, aangesien salarisverhogings inflasie sal oortref ná twee jaar van tekorte. BusinessTech berig salarisverhogings sal na verwagting teen ‘n gemiddeld van 6,9-persent styg. Terselfdertyd sal inflasie waarskynlik gemiddeld vyf-persent wees, wat ‘n reële verhoging van 1,9-persent is en ‘n effense blaaskans bied vir huishoudings wat finansieel sukkel. Ondanks die geskatte salarisgroei kan uitdagings soos werksverliese en hoë rentekoerse egter die finansiële verligting vir Suid-Afrikaanse huishoudings beperk.
Die vakbond Giwusa is intussen onsteld oor bevindings deur die Pietermaritzburgse Justisie en Waardigheidsgroep oor die uitwerking van die hoë lewenskoste. Die verslag dui op ‘n styging van 6,3-persent in die gemiddelde koste van ‘n huishoudelike kosmandjie en ‘n prystoename van 8,5-persent vir huishoudelike en persoonlike higiëne-items. Die vakbond se president, Mametlwe Sebei, vra dringende regerings-ingryping om die hoofoorsake van die krisis aan te pak:
# Die Globale Veldtog teen Transnasionale Georganiseerde Misdaad sê afpersing versprei vinnig deur Kaapstad en die betrokke groepe is hoogs georganiseerd. Die organisasie sê hy het in sy jongste verslag op vier hoof-afpersings-ekonomieë gefokus, naamlik ondernemings in die middestad wat snags bedrywig is, Kaapstad se boumafia, die vervoersektor en township-ondernemings. Die organisasie sê as afpersings-ekonomieë eers gevestig is, is dit uiters moeilik om te hanteer.
# Rugby: Dylan Sage keer die eerste keer in vier jaar na die Springbok-sewesspan terug, en Siviwe Soyizwapi die eerste keer dié seisoen, vir volgende naweek se toernooi in Singapoer. Hoofafrigter Philip Snyman het vyf veranderings aan die span gemaak wat vroeër die maand sesde geëindig het in Hongkong. Tiaan Pretorius, Tristan Leyds en Rosko Specman is ook terug. Suid-Afrika kom in Groep B te staan teen Frankryk, Spanje en Samoa. Snyman sê hulle is slaggereed:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-793-dollar-72-sent. Die prys van goud is twee-duisend-327-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-13-sent per vat.
# En ten slotte, Taylor Swift se jongste album, The Tortured Poets Department, het geskiedenis gemaak op Spotify. Dit het die eerste album in die geskiedenis van die toepassing geword wat ‘n miljard stromings binne ‘n enkele week gehad het. Die enkelsnit Fortnight met Post Malone het op die eerste dag van vrystelling, die mees gestroomde liedjie binne ‘n enkele dag in Spotify se geskiedenis geword. Die album het reeds die topverkoper plaatvrystelling in die moderne era geword. Daar is 700-duisend kopieë in die drie dae verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….