Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 25 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Dylan Sage keer die eerste keer in vier jaar na die Springbok-sewesspan terug, en Siviwe Soyizwapi die eerste keer dié seisoen, vir volgende naweek se toernooi in Singapoer. Hoofafrigter Philip Snyman het vyf veranderings aan die span gemaak wat vroeër die maand sesde geëindig het in Hongkong. Tiaan Pretorius, Tristan Leyds en Rosko Specman is ook terug. Suid-Afrika kom in Groep B te staan teen Frankryk, Spanje en Samoa. Snyman sê hulle is slaggereed:
Intussen het die Junior Springbokke na Australië vertrek vir die Onder-20 Rugbykampioenskap wat van volgende Donderdag tot 12 Mei in Queensland plaasvind. Hulle sal teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië se jong spanne uitdraf in die Sunshine Coast-stadion. Die Baba-Bokke het in Johannesburg vir dié toernooi voorberei, wat die eerste van twee internasionale toernooie is waaraan hulle vanjaar gaan deelneem. Die jaarlikse Wêreldrugby-onder-20-kampioenskap word in Junie en Julie in die Wes-Kaap gespeel.
# Krieket: Die Lions het die Titans volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met agt paaltjies verslaan om die eindstryd van Krieket Suid-Afrika se T20-uitdaging te haal. Die wedstryd op die Wanderers is tot 18 boulbeurte verminder weens ‘n spreilig-probleem. Nqaba Peter het vier paaltjies laat kantel om die Titans tot 131 vir nege te beperk. Daarna het Rassie van der Dussen ʼn onoorwonne 73 aangeteken om die Lions tot ʼn oorwinning te lei. Die Dolphins en die Warriors pak mekaar vanaand in die ander halfeindstryd in Durban.
# Tennis: Die veertienmalige Franse Ope-kampioen Rafael Nadal sê hy sal slegs op Roland Garros deelneem as hy volle vertroue het in sy vermoë om goed mee te ding. Die Spanjaard, wat op drie Junie sy 38ste verjaardag in Parys sal vier, sukkel al meer as ‘n jaar met beserings. Hy sê as die kleibaan Grand Slam-toernooi vandag sou afskop, sou hy nie kon deelneem nie, maar hy hoop steeds om darem nog een keer daar te speel. Die toernooi begin op 26 Mei.
# En, gholf: Die viermalige Major-wenner, Rory McIlroy, sê hy is gewillig om na die PGA Toer se beleidsraad terug te keer. Hy het in November bedank weens kommer oor die tyd en energie wat hy aan die rol bestee. Die Noord-Ierse speler kan Webb Simpson vervang wat volgens berigte sy bedanking ingedien en versoek het dat die gewese wêreld-nommer-een sy plek inneem. McIlroy sê hy kan help om onderhandelings oor samesmelting tussen die PGA-toer en LIV Gholf te versnel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….