Nuus 08:00
BULLETIN 25 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP eis duidelikheid oor elektrisiteitsbesteding
# Netanyahu sê die studentebetogings by Amerikaanse universiteite is antisemities
# En krieket: Die Leeus bespreek hul plek in die Krieket Suid-Afrika T20-uitdaageinstryd
# Die IVP doen ‘n beroep op die minister van Elektrisiteit, Kgosientso Ramakgopa, om die bedrag wat sedert die opskorting van beurtkrag aan dieselvoorrade bestee is, bekend te maak. Eskom moet nog sy begroting vir die 2024/2025-boekjaar voorlê. Die IVP se nasionale woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, sê deursigtigheid oor hoe om beurtkrag te vermy is noodsaaklik maar meen dit kan ‘n verkiesingsfoefie wees. Hy eis ‘n duidelike tydlyn vir die oplos van Eskom se kwessies en die permanente beëindiging van beurtkrag.
# Cosatu verwelkom die ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Poskantoor en vakbonde om afleggings tydelik te staak. Die sakereddings-praktisyns het ‘n dringende hulpaansoek by die Werkloosheidsversekeringsfonds se Tydelike Indiensnemingverligtingskema ingedien. Matthew Parks van Cosatu sê dis noodsaaklik dat alle regeringsvlakke die Poskantoor en Posbank as hulle diensverskaffers gebruik en so waardevolle likiditeit verskaf, want dit sal werksgeleenthede behou:
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê hy gaan voorstel dat meer fondse aan infrastruktuur toegewys word wanneer die 2024/2025-boekjaar se begroting ter tafel gelê word. Die Ouditeur-generaal het tydens ʼn vergadering met die Openbarerekeninge-komitee gesê die aanstel van deskundiges in belangrike posisies het tot ʼn aansienlike verbetering in die metro se finansies en algemene funksionering gelei. Mari Joubert van die VF Plus sê die agterstand in herstelwerk aan infrastruktuur moet uitgewis word om te voorkom dat die metro miljoene rand se inkomste uit water en elektrisiteit verloor:
# Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, sê betogings by groot Amerikaanse universiteite teen die oorlog in Gaza moet stop. Die betogers eis dat die Amerikaanse regering ophou om militêre hulp aan Israel te stuur. Sommige studente eis ook dat universiteite ophou om in wapenvervaardigers te belê en sê hulle trek voordeel uit Israel se militêre optrede in Gaza en die besetting van Palestynse grond. Netanyahu beskryf die betogers as anti-Semitiese gepeupel:
# Krieket: Die Lions het die Titans volgens die Duckworth-Lewis-Stern-metode met agt paaltjies verslaan om die Krieket Suid-Afrika T20-uitdaging se eindstryd te haal. Die wedstryd op die Wanderers is tot 18 boulbeurte verminder nadat ʼn spreilig-probleem spel vertraag het. Nqaba Peter het vier paaltjies laat kantel om die Titans tot 131 vir nege te beperk. In antwoord daarop het Rassie van der Dussen ʼn onoorwonne 73 aangeteken om die Lions tot ʼn oorwinning te lei met 20 balle wat oorbly. Die Lions kom in die eindstryd óf teen die Dolphins óf die Warriors te staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-200-dollar-64-sent. Die prys van goud is twee-duisend-308-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 87-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….