Nuus 18:00
BULLETIN 24 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Veelpartyhandves teiken ongelykheid en honger met ‘n ambisieuse maatskaplike welsynsvoorstel
# Rugby: Die Leeus glo hul skrums kan ‘n dubbele oorwinning verseker oor Ierse spanne
# En die Valsbaaise natuurreservaat se wandelende seekoei gaan dalk verskuif word
# Die Veelparty-handves het voor die verkiesing op 29 Mei ‘n omvattende maatskaplike welsynsplan bekend gestel wat daarop gemik is om armoede, ongelykheid en hongerte aan te pak. Dit sluit in die verhoging van die Kindertoelaag en die uitbreiding daarvan na swanger vroue, die bespoediging van ongeskiktheidstoelaes, en inkomstetoets-voordeelbepaling van welsynsontvangers. Die plan kyk ook na tienerswangerskappe, onderhoudsbetalings, gesondheidsorg, bendelede, dwelmmisbruik, haweloosheid en polisie-sigbaarheid. Die DA-leier, John Steenhuisen, sê ondanks individuele partyveldtogte, het alle ondertekenende partye tot hierdie verbintenisse ingestem, met ‘n mikpunt na eenheid in die politiek:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement is hartseer oor die dood van die Tembisa-hospitaal se geskorste uitvoerende hoof, dr Ashley Mthunzi. Hy is gister in die hospitaal dood ná ‘n kort siekbed. Mthunzi is geskors as ‘n voorsorgmaatreël te midde van bewerings oor ‘n moontlike verbintenis met die moord op die Gautengse Gesondheidsdepartement se finansiële rekenmeester en verklikker, Babita Deokaran, in Augustus 2021.
# Noord-Ierland se langsdienende parlementslid is amptelik van verkragting aangekla toe hy saam met sy vrou in die hof in Newry verskyn het. Die 61-jarige sir Jeffrey Donaldson is verlede maand gedwing om as leier van die Demokratiese Unioniste-party te bedank, en sy partylidmaatskap is opgeskort. Die beweerde verkragtings en ander seksmisdrywe dateer vanaf tussen 1985 en 2006, terwyl sy vrou, Eleanor, daarvan aangekla word dat sy hom gehelp het. Die egpaar is op borgtog vrygelaat. Donaldson is in 2016 tot ridder geslaan vir sy dienste aan die politiek.
# Rugby: Die Leeus sal probeer om hul indrukwekkende oorwinning oor Leinster op te volg deur Saterdag nóg ‘n Ierse reus op Ellispark te klop. Hulle sal Munster aandurf, wat hul status as verdedigende kampioen van die Verenigde Rugbykampioenskap bevestig het met ‘n groot oorwinning oor die Bulle op Loftus. Die skrum het ‘n kragtige wapen geword terwyl die Leeus inspirasie put uit die Springbokke se sogenaamde ‘bomb squad’. Die skrumafrigter, Julian Redelinghuys, is tevrede met die diepte onder die voorspelers:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-397-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-321-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-24-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Stad Kaapstad sê ‘n jong seekoei-bul sal uit sy trop in die Valsbaaise natuurreservaat verwyder en hervestig moet word om hom teen die dominante bul te beskerm. Die ouer bul, wat sedert hul herbekendstelling in 1981 daar is, hou ‘n bedreiging in vir die jonger bulle wanneer hulle volwassenheid bereik. Die burgemeesterskomiteelid vir Ruimtelike Beplanning en Omgewing, Eddie Andrews, sê seekoeie speel ‘n deurslaggewende rol in die ekostelsel, maar word bedreig weens faktore soos verlies aan habitat en stropery:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….