Nuus 16:00
BULLETIN 24 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA sluit ‘n alliansie met sewe partye vir die verkiesing
# Die NVG sê ‘n holistiese benadering is nodig om korrupsie en misdaad te bekamp
# En krieket: ‘n Gautengse derby vind vanaand in die halfeindronde van die T20-uitdaagkompetisie plaas
# Build One South Africa het ‘n alliansie met sewe partye aangekondig vir die komende algemene en provinsiale verkiesing. Dit het ten doel om verskeie gemeenskapsgebaseerde organisasies te verenig onder die BOSA-vaandel, om die regering uit te daag. Lede van die alliansie, insluitend die Mopani Independent Movement, Lentswe La Batho, en die Abantu Integrity Movement, het onderneem om eksklusief by BOSA te staan. Hulle beloof om meritokrasie te herstel, die grondwet te beskerm en hulpbronne te deel. Die alliansie sal ook lede in die plaaslike regeringsverkiesing in 2026 ondersteun.
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het beslag gelê op 42,1-miljoen-rand kontant en eiendom van 18-miljoen-rand van die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, se beweerde gewese minnares, Berdine Odendaal. Dié bates is drie-jaar gelede bevries. Odendaal het na bewering ‘n lening van 60-miljoen-rand van ‘n Jooste-gekoppelde onderneming ontvang. Die fondse en eiendom waarop beslag gelê is, sal in die staat se Nasionale Inkomstefonds inbetaal word. Jooste se bates, insluitend ‘n familietrust ter waarde van meer as ‘n miljard-rand, is voorheen bevries. Hy het op 21 Maart sy eie lewe geneem.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag doen ‘n oproep vir ‘n holistiese benadering om korrupsie en misdaad te bekamp. Dié benadering sal behels dat alle sektore van die samelewing saamwerk, insluitend reguleerders, professionele persone en wetstoepassings-agentskappe. Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, en die NVG se uitvoerende komitee het vandag ‘n rondetafel-gesprek met die media in Pretoria gehou. Volgens Batohi kan vervolging alleen nie ingewikkelde kwessies oplos nie en vra die NVG ‘n gekoördineerde poging om alle soorte misdaad doeltreffend aan te pak:
# Transnet se Nasionale Hawe-owerheid wag voorstelle in vir ‘n 25-jaar-konsessie op die Kaapstadse hawe se Vloeibare grootmaat-terminaal. Die versoek is vir voorstelle vir ‘n terminaal-operateur om die terminaal te bekom, te bedryf en in stand te hou. Dit het ten doel om hawe-infrastruktuur te verbeter en samewerking met die privaat sektor te bevorder. Die waarnemende hawebestuurder, Ophelia Shabane, het die terminaal se potensiële rol in werkskepping uitgelig.
# Krieket: Die eerste halfeindstryd van Krieket Suid-Afrika se T20-uitdaagkompetisie word vanaand op die Wanderers in Johannesburg gespeel. Die Leeus het boaan die punteleer geëindig en is gasheer vir die Titans in ‘n Gautengse derby. Die span van Pretoria het hul laaste wedstryd gewen om in die vierde plek te eindig, en ingesluip by die uitklop-rondes. Die Titans se kaptein, Neil Brand, voorspel ‘n naelbytstryd teen hul bure:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-19-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-663-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-315-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….