Nuus 15:00
BULLETIN 24 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank lê beslag op kontant en eiendom van miljoene rand van Markus Jooste se vermeende voormalige minnares
# Die NVG sit strategieë uiteen vir bate-herwinning en die bekamping van korrupsie
# En, gholf: LIV se uitvoerende hoof sê hulle kan verandering oorweeg na ‘n tradisionele 72-putjie-formaat
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het beslag gelê op 42,1-miljoen-rand kontant en eiendom van 18-miljoen-rand van die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, Markus Jooste, se beweerde gewese minnares, Berdine Odendaal. Dié bates is drie-jaar gelede bevries. Odendaal het na bewering ‘n lening van 60-miljoen-rand van ‘n Jooste-gekoppelde onderneming ontvang. Die fondse en eiendom waarop beslag gelê is, sal in die staat se Nasionale Inkomstefonds inbetaal word. Jooste se bates, insluitend ‘n familietrust ter waarde van meer as ‘n miljard-rand, is voorheen bevries. Hy het op 21 Maart sy eie lewe geneem.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het sy strategieë vir bate-herwinning en die bekamping van korrupsie uiteengesit. Dit sluit in ‘n vennootskap met die burgerlike samelewing en internasionale kundiges om spesialisvaardighede te verseker wat nodig is vir ingewikkelde korrupsiesake. Daar is ook samewerking met internasionale wetstoepassingsagentskappe om bate-herwinningspogings te verbeter. Die nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, het tydens media-gesprekke onthul adjunkpresident Paul Mashatile se huidige besoek aan die Verenigde Arabiese Emirate sluit besprekings in oor die Guptas se uitlewering, nadat ander pogings misluk het:
# Onafhanklike kandidate in Suid-Afrika wat om wetgewer-setels meeding, is gefrustreerd oor die kiesstelsel se beperkings, wat slegs een setel toelaat ongeag hul stemmetelling. Hulle ervaar die reël as onregverdig, ten spyte van die belofte om die verkiesingsgedragskode na te kom. Een kandidaat, Anele Mda, erken hierdie kwessie as aanvanklike struikelblokke wat in daaropvolgende verkiesings kan verbeter, en hoop hervormings word in die toekoms bygevoeg. Intussen glo ander kandidate soos Blessings Ramoba die stelsel regverdig ‘n regs-uitdaging.
# Gholf: LIV Gholf se uitvoerende hoof, Greg Norman, sê hulle kan dit dalk oorweeg om na ‘n tradisionele 72-putjie-formaat te verander. Die gewese wêreld nommer een, Jon Rahm van Spanje, wat in Desember by LIV aansluit, het daarop gewys dit kan help om LIV en die PGA-toer te verenig. LIV word tans oor 54 putjies oor drie rondes gespeel, sonder ‘n afsnypunt na die tweede ronde. Norman sê LIV kan dalk oorreed word om die formaat te wysig, maar moet ook die ekonomiese uitwerking daarvan oorweeg.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-16-sent teen die dollar, 20-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-617-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-315-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-2-sent per vat.
# En, laastens: Gesinne word aangemoedig om hulle vir volgende maand see 12de jaarlikse Slawe-Roete-uitdaagwedloop in Kaapstad in te skryf. Die Brimstone Itheko-sport- en atletiekklub organiseer die gewilde byeenkoms. Die wedloop het plek vir deelnemers van alle fiksheidsvlakke en dit sluit ‘n halfmarathon van 21,1-kilometer en ‘n pretdraf of -stap van vyf kilometer in. Die roete eer die Kaapstadse erfenis van slawerny deur die onmisbare rol wat slawe in die skepping van ‘n samebindende en kultureel-uiteenlopende gemeenskap gespeel het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….