Nuus 14:00
BULLETIN 24 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging kyk na die NVG se vordering in die heropbou-proses ná staatskaping
# Die Johannesburgse burgemeester veroordeel die misbruik van regsprosesse ná ‘n poging om die stadsbestuurder in hegtenis te neem
# En tennis: Alcaraz glo hy sal in Madrid kan speel
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê die Nasionale Vervolgingsgesag het reeds aansienlike vordering gemaak met die heropbouproses, ná die era van staatskaping. Sy het prestasies uitgelig in die vestiging van leierskap, die verhoging van vermoë en samewerking met die burgerlike samelewing en internasionale kundiges. Batohi het tydens ‘n mediagesprek in Pretoria uitdagings erken, insluitend die stadige vordering in sommige staatskaping-verwante sake. Sy sê in weerwil van uitdagings en kritiek, bly die NVG verbind tot aanspreeklikheid en sy belangrike rol in Suid-Afrika se herbouproses:
# Johannesburg se burgemeester, Kabelo Gwamanda, sê hy is bewus gemaak van ‘n poging deur die balju van die hof om die stadsbestuurder, Floyd Brink, in hegtenis te neem. Dit hou verband met ‘n aangeleentheid wat ‘n inwoner van die stad en ‘n betwiste nutsrekening behels. Die stad se woordvoerder, Mlimandlela Ndamase, sê die lasbrief vir inhegtenisneming was gebrekkig en foutief en kon dus nie regmatig uitgevoer word nie:
# Die Oos-Kaapse LUR vir Openbare Werke en Infrastruktuur, Ntombovuyo Nkopane, het bewerings verwerp van nepotisme ten opsigte van begunstigdes van die Uitgebreide Openbare Werke-program. Dit volg ná president Cyril Ramaphosa se deelname aan die 20ste bestaansjaar-viering en die bekendstelling van fase vyf in die Buffalo City-stadion. Nkopane het die program se verbintenis tot die verskaffing van werksgeleenthede en inkomstesteun aan armes en werkloses herbevestig. Sy het die vordering met die program geloof, en sê fase vyf sal volhoubare ontwikkeling bevorder.
# Tennis: Die Spanjaard Carlos Alcaraz maak reg om in sy eerste kleinbaantoernooi van die seisoen in sy land se hoofstad te speel. Die Madridse Ope begin vandag met ‘n loslootjie vir die wêreld nommer drie en hy speel Vrydag sy eerste wedstryd. Alcaraz, wat die toernooi die afgelope twee jaar gewen het, het Monte Carlo en Barcelona weens ‘n besering misgeloop. Hy hou duim vas vir ‘n eindstryd teen sy beroemde landgenoot, Rafael Nadal, wat ook sukkel om heeltemal fiks te wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-13-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-357-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-317-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-8-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Universiteit van Pretoria se Instituut vir Volhoubare Malariabeheer het ‘n toelaag van 31,3-miljoen-rand van die Bill en Melinda Gates-stigting ontvang. Dit sal gebruik word vir die voortsetting van die instituut se suksesvolle gevorderde leierskapsprogram vir die uitwissing van malaria wat in April 2022 bekendgestel is. Taneshka Kruger van die universiteit sê hoewel Afrikalande se stryd teen malaria vorder, loop die vasteland steeds die meeste deur onder die siekte:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….