Eko-minuut 13:30
BULLETIN 22 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# AgriSA sê klimaatslim landbou is deurslaggewend in die bekamping van klimaatsverandering. Volgens die organisasie is menslike bedrywighede, veral die brand van fossielbrandstowwe en habitatvernietiging, die sleuteldrywers van klimaatsverandering. Landbou is ‘n groot bydraer tot klimaatsverandering en ook baie kwesbaar vir die uitwerking daarvan, soos uiterste weersomstandighede en plaaguitbrekings. Klimaatslim landbou, wat praktyke soos bewaring en vernuwende landbou insluit, sluit praktyke in wat klimaatsverandering versag en daarby aanpas, om volhoubare boerdery te bevorder en te poog om produktiwiteit te verhoog, veerkragtigheid te verbeter, en uitstralings te verminder.
# Die groen waterstofsektor het nou ‘n digitale platform wat hulle kan gebruik om handel te dryf in groen waterstof. Die Green Hydrogen Marketplace van die Franse energie-oorgangsgroep Lhyfe, is gemik op vinniger koolstofvermindering. Die stigter en uitvoerende hoof van Lhyfe, Matthieu Guesné, sê die eerste fase van die platform sal kopers help met waterstofvervoeroplossings en vervaardigers help om die groenwaterstofaanbod in Europa te versterk:
# En, laastens: Greenpeace USA sê die besoedelingskrisis kan net opgelos word as plastiekvervaardiging beperk word. Sowat 400-miljoen ton plastiek word elke jaar vervaardig en baie daarvan beland in die oseane en op stortingsterreine. Lande neem tans deel aan die vierde vergadering van die onderhandelingskomitee tussen regerings in Kanada waar ‘n bindende verdrag onderhandel word om besoedeling te verminder. Greenpeace USA se woordvoerder, Graham Forbes, sê dis duidelik dat die wêreld nie die hoeveelheid plastiek wat hy vervaardig, kan hanteer nie omdat slegs tien-persent herwin word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….