Nuus 13:00
BULLETIN 24 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Tweedehandse kragopwekker word aangekoop om Medupi se Eenheid 4 te help
# ‘n Tweede ronde loononderhandelings is aan die gang in die staalsektor
# En, tennis: Alcaraz glo hy sal in Madrid kan speel
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het aangekondig Medupi se Eenheid 4 sal voor skedule sy bedrywighede hervat. Hy het tydens ‘n besoek aan die kragstasie in Lephalale, Limpopo, gesê die regering het ‘n tweedehandse kragopwekker van Nederland aangeskaf om met die herstelproses te help. Ramokgopa sê die stap is daarop gemik om opwekkingsvermoë meer kostedoeltreffend te bevorder en die voortdurende uitdaging van beurtkrag die hoof te bied:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag beplan om die bedrogsaak teen die voormalige burgemeester van die stad Tshwane, Murunwa Makwarela, te laat vaar sodra sy doodsertifikaat ontvang is. Makwarela het ná ‘n kort siekbed in die hospitaal gesterf. Sy saak is laas in die Pretoriase Handelsmisdaadhof aangehoor oor twee bedrogaanklagte, naamlik die nie-openbaarmaking van sy insolvensie-status en die voorlegging van ‘n vals rehabilitasiesertifikaat. Die NVG se woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê die saak sal op 31 Julie met ontvangs van die sertifikaat van die rol geskrap word.
# Werkgewers in die staalbedryf en vakbonde wat werkers verteenwoordig vergader vandag vir die tweede ronde loononderhandelings met die Metaal- en ingenieursbedryf se Bedingingsraad. Die vakbond Numsa het in die eerste ronde ‘n verhoging van sewe-persent vir vanjaar geëis en ses-persent vir 2025 en ’26. Numsa se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê werkgewers moet ʼn sinvolle loonaanbod voorlê:
# AgriSA sê klimaatslim landbou is deurslaggewend in die bekamping van klimaatsverandering. Volgens die organisasie is menslike bedrywighede, veral die brand van fossielbrandstowwe en habitatvernietiging, die sleutel-aanvuurders van klimaatsverandering. Landbou is ‘n groot bydraer tot klimaatsverandering en ook baie kwesbaar vir die uitwerking daarvan, soos uiterste weersomstandighede en plaaguitbrekings. Klimaatslim landbou, wat praktyke soos bewaring en vernuwende landbou insluit, sluit praktyke in wat klimaatsverandering versag en daarby aanpas, om volhoubare boerdery te bevorder en te poog om produktiwiteit te verhoog, veerkragtigheid te verbeter, en uitstralings te verminder.
# Tennis: Die Spanjaard Carlos Alcaraz maak reg om in sy eerste kleinbaantoernooi van die seisoen in sy land se hoofstad te speel. Die Madridse Ope begin vandag met ‘n loslootjie vir die wêreld nommer drie en hy speel Vrydag sy eerste wedstryd. Alcaraz, wat die toernooi die afgelope twee jaar gewen het, het Monte Carlo en Barcelona weens ‘n besering misgeloop. Hy hou duim vas vir ‘n eindstryd teen sy beroemde landgenoot, Rafael Nadal, wat ook sukkel om heeltemal fiks te wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-13-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-438-dollar-93-sent. Die prys van goud is twee-duisend-312-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….