Nuus 08:00
BULLETIN 24 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# My Vote Counts sê die verbrokkeling van koalisies is te wyte aan individue se magsbeheptheid
# Cosatu verwelkom die wysigings aan die Spioenasiewetsontwerp, maar is steeds bekommerd
# En die EU doen ‘n beroep op skenkers om befondsing aan die VN se Hulp- en Werksagentskap vir Palestina te hervat
# My Vote Counts sê in Suid-Afrika se veelparty-demokrasie moet koalisie-politiek organies ontwikkel. Ongeveer een uit elke drie munisipaliteite word tans deur ‘n koalisie regeer. Talle meningsopnames dui daarop dat koalisies nasionaal en provinsiaal gevorm sal word ná die algemene verkiesing op 29 Mei. Die organisasie sonder winsbejag het ʼn beleidsdokument oor koalisies bekendgestel. Hy sê die oorsaak dat koalisies ineenstort of swak presteer, is dikwels as gevolg van die betrokke individue, hulle ego’s en hulle strewe na mag. My Vote Counts sê ʼn regsraamwerk is nodig om koalisies te bestuur.
# Cosatu sê intelligensie- en sekerheidsdienste is deel van elke moderne staat, maar dis noodsaaklik om seker te maak daar is genoeg wigte en teenwigte in plek om die misbruik van sulke agentskappe te voorkom. Die vakbond-federasie het sy voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette by ʼn ad hoc-komitee van die Nasionale Raad van Provinsies ingedien. Matthew Parks van Cosatu sê hulle is steeds bekommerd dat die staat se intelligensie-instellings die magte van die Inspekteur-Generaal van Intelligensie sal ondermyn:
# Die Europese Unie vra lande om weer fondse te skenk aan die Verenigde Nasies se Hulp- en Werke-agentskap vir Palestynse Vlugtelinge. Israel se bewerings oor die humanitêre agentskap se bande met Hamas het veroorsaak dat groot skenkers hul befondsing gestaak het. Twaalf personeellede is beskuldig dat hulle deel was van die 7 Oktober-aanval op Israel waarin ongeveer een-duisend-200 mense dood en 250 gyselaar geneem is. Die EU sê die lande moet weer die fondse skenk omdat dit die Palestynse vlugtelinge se redding is.
# Krieket: Marcus Stoinis se eerste Indiese Premierliga-honderdtal het die Lucknow Super Giants gehelp om die Chennai Super Kings met ses paaltjies te verslaan. CSK-kaptein Ruturaj Gaikwad se onoorwonne 108 het bygedra tot sy span se 210 vir vier. Lucknow was op 88 vir drie ná elf boulbeurte in die moeilikheid. Stoinis het egter tot hul redding gekom en ʼn onoorwonne 124 gemoker in ʼn lopie-vennootskap van 65 saam met Deepak Hooda. Hulle het die oorwinning behaal met drie balle wat oorbly. Stoinis sê dit was opwindend om die lopies te jaag:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-9-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-664-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-34-sent per vat.
# En om mee af te sluit: Die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie gaan môre ‘n eredoktersgraad aan die afrigter van Banyana Banyana, Desiree Ellis, toeken. Sy is die suksesvolste afrigter in die geskiedenis van Banyana Banyana en het die span tot hulle eerste Vroue Afrika-Nasiebeker-titel in 2022 gelei. Onder haar leierskap het die die span ook vir agtereenvolgende Vroue-Wêreldbeker-kompetisies gekwalifiseer. Die universiteit sê Ellis kry erkenning vir haar aansienlike prestasies wat haar in die boonste groep van sportlui in Afrika en die wêreld plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….