Nuus 06:00
BULLETIN 24 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Konstitusionele Hof beveel Zuma en die MK-party om beëdigde verklarings in te dien teen die Verkiesingskommissie se appèl
# ’n Aanklaer sê Trump minag die hof ná sy aanvalle op getuies
# En rugby: Cheslin Kolbe kan die Bokke se losskakel wees in hul Twickenham-toets teen Wallis
# Die Konstitusionele Hof het ‘n bevel uitgereik in die Verkiesingskommissie se appèl teen die Verkiesingshof se beslissing rakende oudpresident Jacob Zuma se kandidatuur. Respondente, insluitend oudpresident Jacob Zuma en die MK-party, is aangesê om hul beëdigde verklarings in reaksie op die aansoek teen môre in te dien. Zuma is aanvanklik kandidatuur geweier omdat hy in 2021 skuldig bevind is aan minagting en tronkstraf uitgedien het. Die Verkiesingshof het egter ’n aansoek van Zuma en die MK-party toegestaan.
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, sê een van die grootste uitdagings wat gegradueerdes in die gesig staar, is om van tersiêre instellings na die werkplek oor te skakel. Die minister het die belangrikheid van die Sektorale Onderwys- en Opleidingsowerheid se rol in hierin beklemtoon. Nzimande sê SETA moet fokus op ses gebiede wat ‘n groot uitwerking het, insluitend die vermindering van werkloosheid, infrastruktuur en landelike ontwikkeling, en holistiese digitalisering:
# Die Gautengse polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê alles is gereed om te verseker dat die verkiesing in ‘n veilige omgewing gehou word. Daar is twee-duisend-797 stemlokale in 529 wyke in Gauteng. Hiervan hou 168 ‘n hoë risiko en 377 ‘n medium risiko in. Mthombeni sê intelligensiestrukture binne die polisie is hard aan die werk sedert die aankondiging van die 29 Mei-verkiesing:
# Aanklaers beskuldig Donald Trump van openlike verontagsaming van ‘n stilswye-bevel deur die regter in sy swyggeld-verhoor, om hom te keer om getuies te intimideer. Volgens die aanklaer Chris Conroy is Trump se aanvalle op getuies ‘n duidelike verbreking van die opdrag. Hy het regter Juan Merchan gevra om te bepaal of die voormalige president skuldig is aan minagting van die hof. Trump word aangekla van die vervalsing van sakerekords om die porno-ster Stormy Daniels om te koop oor ‘n seksuele verhouding wat sy presidensiële veldtog van 2016 sou kon benadeel.
# Rugby: Daar word gegis die vleuel Cheslin Kolbe kan die Springbokke se nommer-tientrui dra wanneer die wêreldkampioene op 22 Junie op Twickenham teen Wallis speel. Die wedstryd val buite die amptelike toetsvenster, wat beteken spelers in Brittanje, Ierland en Frankryk sal nie beskikbaar wees nie. Dit sal die losskakels Handré Pollard en Manie Libbok uit die span hou. Kolbe was die steunskrumskakel in die Wêreldbeker-eindstryd teen die All Blacks, en hy en nommer nege, Faf de Klerk, het albei ondervinding op losskakel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-782-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-320-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: Altesaam 32 ontvangers, insluitend die teen-apartheidsaktivis Peter Cyril Jones en Fulco van Aurich van Nederland, sal komende Dinsdag Nasionale Ordes tydens ‘n seremonie ontvang. ‘n Nasionale Orde is die hoogste toekenning wat die president aan burgers en vooraanstaande buitelanders kan gee. Jones, ’n stigterslid van die Black Consciousness Movement, sal die Orde van Luthuli in Goud postuum ontvang. Van Aurich sal die Orde van die Metgeselle van OR Tambo in Silwer ontvang vir sy bydrae tot die bewusmaking van menseregteskendings deur die apartheidsregering.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….