Nuus 13:00
BULLETIN 23 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Kabinet moedig kiesers aan om in die verkiesing te stem
# Die UDM sê dienslewering kry slegs aandag tydens verkiesings
# En, rugby: Die Shimlas word die eerste keer sedert 2015 tot Varsitybeker-kampioen gekroon
# Die Kabinet sê hy is vol vertroue die land sal voortbou op sy rekord van gereelde, geloofwaardige en vrye en regverdige algemene en plaaslike verkiesings sedert 1994. Met die land wat vanjaar 30 jaar van vryheid vier, moedig die Kabinet burgers aan om hulle demokratiese reg uit te oefen en in die komende verkiesing te stem. Die Kabinet sê die Verkiesingsgedragskode vereis van almal wat aan die verkiesing deelneem om te hou by die stel reëls wat daarop gemik is om ‘n vrye en regverdige verkiesing te verseker.
Intussen sê die UDM sê hy is bekommerd dat dienslewering slegs met verkiesings nasionale aandag geniet, wanneer dit met oordadige leë beloftes gepaard gaan. Die party sê die dienslewering in talle gebiede is haglik, insluitend die Motsoaledi informele nedersetting in Soweto en die Nomzamo-nedersetting in Mahikeng, Noordwes. Die UDM se sekretaris-generaal, Yongama Zigede, sê in Nomzamo word noodsaaklikhede soos water en elektrisiteit as luukses beskou:
# Cosatu eis dringende optrede teen werkgewers wat versuim om bydraes te betaal wat verskuldig is aan werkers se pensioenfondse. Die federasie het die omvattende verslag van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor verwelkom oor die groot getal werkgewers in beide die privaat en die openbare sektor wat miljarde rand skuld. Matthew Parks van Cosatu sê meer as vier-duisend werkgewers, hoofsaaklik in die sekerheids-, skoonmaak-, metaal-, ingenieurs- en munisipale sektore, versuim maande en selfs jare om te betaal:
# Rugby: Die Shimlas van die Universiteit van die Vrystaat het die Varsitybeker die eerste keer sedert 2015 gewen. Die Shimlas het die Ikey Tigers van Kaapstad gisteraand in Bloemfontein 45-42 geklop danksy ‘n strafskop in die doodsnikke nadat die spanne altesaam elf drieë gedruk het. Dis die Tigers se tweede agtereenvolgende eindstryd-nederlaag na verlede jaar s’n teen die Arende van Noordwes-Universiteit. Intussen het die Arende die Shimlas se Young Guns 39-36 kafgedraf om as Varsity Young Guns-kampioen gekroon te word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-25-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-259-dollar-24-sent. Die prys van goud is twee-duisend-293-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het sy goeie wense aan die Suid-Afrikaanse Joodse gemeenskap oorgedra terwyl hulle die Pasga-vakansie vier. Die Pasga simboliseer vryheid en dui die bevryding van die Joodse volk uit slawerny aan. Slawerny van die Israeliete in Egipte en hul uiteindelike uittog na vryheid word dus tans herdenk. Ramaphosa sê die Joodse gemeenskap vorm ‘n integrale deel van Suid-Afrika se uiteenlopende samelewing. Die Pasga het gister begin en eindig Dinsdag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….