Nuus 12:00
BULLETIN 23 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu waarsku minister Nxesi om die Werkloosheids-versekeringsfonds se hersiening uit te voer
# Die Instituut van Rassebetrekkinge vra Ramaphosa om nie die Wetsontwerp op Onteiening te bekragtig nie
# En, rugby: Ierland en Nieu-Seeland skop die Herfs-nasiesreeks in November af
# Cosatu sê die minister van Indiensneming en Arbeid, Thulas Nxesi, moet planne uitvoer om die Werkloosheidsversekeringsfonds te hersien. Die Hooggeregshof in Pretoria het verlede week die omstrede kontrak van vyf-miljard-rand wat die WVF aan Thuja Capital toegeken het, ongeldig verklaar. Matthew Parks van Cosatu sê hulle verwelkom Nxesi se opdrag dat ‘n forensiese oudit oor die mislukte ooreenkoms gedoen word:
# Die Instituut van Rassebetrekkinge sê hy is bemoedig dat president Cyril Ramaphosa sy besware oor die Wetsontwerp op Onteiening sal oorweeg. Die wetsontwerp wat onlangs in die Parlement aanvaar is, maak onteiening vir openbare doeleindes in openbare belang moontlik. Die instituut se veldtogbestuurder, Makone Maja, sê dit is ongrondwetlik en is deur die Parlement deur gestoomroller en oorhaastig na Ramaphosa gestuur om onderteken te word.
# Die UDM is bekommerd dat dienslewering slegs met verkiesings nasionale aandag geniet, wanneer dit met oordadige leë beloftes gepaard gaan. Die party sê die dienslewering in talle gebiede is haglik, insluitend die Motsoaledi informele nedersetting in Soweto en die Nomzamo-nedersetting in Mahikeng, Noordwes. Die UDM se sekretaris-generaal, Yongama Zigede, sê in Nomzamo word noodsaaklikhede soos water en elektrisiteit as luukses bestempel:
# Rugby: Ierland sal probeer munt slaan uit sy agtereenvolgende Sesnasies-krone wanneer hulle in November teen Nieu-Seeland, Argentinië, Fidji en Australië te staan kom in hulle Herfs-nasiesreeks. Die aanvangswedstryd in Dublin is teen die All Blacks, wat die Iere verlede jaar in die Wêreldbekertoernooi se kwarteindronde uitgeskakel het. Die reeks is Andy Farrell se laaste as Ierland se hoofafrigter voor hy in 2025 toesig hou oor die Britse en Ierse Leeus se toer na Australië. Hy beloof dit gaan ʼn onvergeetlike reeks wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-20-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-47-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-143-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-31-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-82-sent per vat.
# En, die L’Oréal-stigting het die sesde uitgawe van die Women in Science Young Talent Search in Suid-Afrika bekendgestel. Dis ʼn veldtog van die stigting en die Verenigde Nasies se opvoedkundige, wetenskaplike en kulturele organisasie, UNESCO. Die program het sedert sy ontstaan toelaes van meer as drie-miljoen-rand aan 32 uitstaande vroulike navorsers toegeken en finansiële ondersteuning gebied vir toonaangewende navorsing. Vroulike navorsers jonger as 40 jaar kan aansoek doen. Die sluitingsdatum is die 19de van volgende maand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….