Goeie Nuus
BULLETIN 22 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die stigter van Young Hearts Africa, dokter Wilhelm Lichtenberg, sê hy wil meer kinders met aangebore hartsiekte groter toegang tot mediese sorg gee terwyl hy navorsing en opleiding bevorder om die gaping in vaardighede te oorbrug. Hy het onlangs die Thoracic Surgery Foundation Every Heartbeat Matters-toekenning gekry vir sy werk om lewensreddende operasies te voorsien aan Suid-Afrikaanse kinders met die siekte. Lichtenberg sê Young Hearts Africa in samewerking met die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad het tot op hede 30 kinders met die toestand suksesvol geopereer.
# Die Stad Kaapstad vertoon binnekort die hervormende krag van opera en klassieke musiek as deel van die Opera in jou Buurt-gemeenskapskonserte. Dit is ‘n gesamentlike poging deur die stad, die Kaapstadse Filharmoniese Orkes en Kaapstad Opera om die aantrekkingskrag en elegansie van opera na gemeenskappe te bring. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Patricia van der Ross, sê vertonings word in gebiede soos Edgemead, Durbanville en Blouberg gehou:
# Die Universiteit van Pretoria het ‘n eredoktorsgraad toegeken aan die Wêreld-gesondheidsorganisasie se streeksdirekteur vir Afrika, Matshidiso Moeti. Sy is die eerste vrou wat ’n eredoktorsgraad ontvang van die universiteit se Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Die instelling sê die erkenning is vir haar uitstaande bydrae as ‘n leier, globale gesondheidskenner, advokaat en diplomaat. Sy is sedert 2015 aan die stuur van die WGO in Afrika. Moeti sê sy glo sterk in die krag van onderwys om lewens te verander en verbeter.
# Agt van die voormalige Formule Een-wêreldkampioen, Michael Schumacher, se spesiale horlosies sal na verwagting volgende maand altesaam meer as 90-miljoen-rand op ‘n veiling in Switserland haal. Die luukse, persoonlike horlosies sal van 3 tot 5 Mei in New York uitgestal word voor die Christie’s-veiling in Genève op die 13de. Schumacher se familie glo horlosieversamelaars sal hul ware waarde kan waardeer. Die Duitse renjaer het sewe wêreldtitels gewen voordat hy in 2013 ‘n kopbesering opgedoen het tydens ‘n ski-ongeluk, waarna hy uit die openbare oog verdwyn het.
# En, die Rock and Roll-heldesaal het die name bekend gemaak van 16 sterre in die musiekbedryf wat vanjaar vereer sal word. Cher, Dionne Warwick, Ozzy Osbourne en Mary J Blige is onder hulle. Osbourne word vanjaar ‘n tweede keer ingesluit; sy groep Black Sabbath is in 2006 vereer. Motown word ook gevier met die inlywing van die liedjieskrywer en vervaardiger, Norman Whitfield, wie se lys van treffers Papa Was a Rollin’ Stone en I Heard It Through the Grapevine insluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….