Nuus 14:00
BULLETIN 22 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sal binne die volgende ses maande twee-duisend-580 Megawatt krag byvoeg
# ActionSA sê die Nasionale Tesourie moet Edwin Sodi en sy ondernemings dringend op die swartlys plaas
# En, tennis: Swiatek vier 100 weke as wêreld nommer een
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, het Eskom se plan aangekondig om binne die volgende ses maande twee-duisend-580 megawatt krag by die netwerk te voeg. Die minister sê dit sal vergemaklik word deur die terugkeer van eenhede by Koeberg, Medupi en Kusile. Ramokgopa het die privaat sektor erkenning gegee vir hul aggressiewe ontplooiing van sonkragstelsels, wat druk op die netwerk verlig. Hy het ook komende nuts-skaalprojekte uitgelig:
# ActionSA is bekommerd omdat die Nasionale Tesourie nog nie vir Edwin Sodi en sy ondernemings, Blackhead Consulting en NJR Projects, op die swartlys geplaas het nie. Sodi en sy ondernemings is glo aan die voorpunt van wanadministrasie en korrupsie wat verband hou met die tender ter waarde van 295-miljoen-rand om die Rooiwal-watersuiweringswerke in Tshwane op te gradeer. Alan Beesley van ActionSA sê ondanks die metro se versoek om die ondernemings te swartlys, het die Tesourie dit nie gedoen nie:
# Markte in Asië het vandag gestyg en van verlede week se verliese teruggewin. Dit volg nadat vrese oor die Midde-Ooste afgeneem het en makelaars gereedmaak vir die vrystelling van sleutel-Amerikaanse inflasie-data en maatskappye se verdienste. Iran het ‘n Israelse aanval op hom ontken wat gevolg het op Teheran se aanval op Israel, en dit lyk of spanning tussen die streeksvyande afneem. Hoewel die situasie gespanne bly, het die gebrek aan ‘n toename in vyandighede makelaars die naweek die geleentheid gegee om aandele op te raap en die olieprys gehelp om te daal.
# Tennis: Iga Swiatek van Pole vier vandag honderd weke as die wêreld se nommer-eenspeler. Dit plaas haar negende op die algehele lys. Maar daar is ‘n paar spelers wat in haar nek blaas, soos Elena Rybakina van Kazakstan, wat haar verlede week in die Stüttgart-ope geklop het. Aryna Sabalenka van Belarus het in September verlede jaar vir ‘n rukkie oorgeneem as wêreld nommer een, terwyl die Amerikaner Coco Gauff ook ‘n aanspraakmaker is. Die WTA-toer is dié week in Spanje vir die Madridse Ope.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-33-sent teen die euro en 23-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-980-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-359-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 86-dollar-68-sent per vat.
# En, vroulike joernaliste kry al meer te doen met aanlyn dreigemente oor hulle werk. ‘n Gesamentlike studie deur UNESCO en die Internasionale Sentrum vir Joernaliste het bevind byna drie-kwart van die vroulike joernaliste wat ondervra is, het aanlyn geweld of -uitbuiting beleef. Die kuberafknouery behels beledigings, seksistiese opmerkings, en selfs fisiese dreigemente raak algemeen. Die teistering loop dikwels uit op fisiese geweld, wat joernaliste se werk en mediavryheid raak. Die sentrum sê die giftige omgewing word vererger deur groot tegnologie-maatskappye wat nie iets doen aan dié kwessie nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….