Eko-minuut 13:30
BULLETIN 22 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Vandag is Wêreld Aardedag om mense te herinner aan die belangrikheid van omgewingsbewaring en volhoubaarheid. Vanjaar se tema is Planeet teen Plastiek. Daar word ‘n beroep gedoen op regeringsleiers, sakeondernemings en gewone mense om plastiekproduksie teen 2040 met 60-persent te verminder. Earthday.org werk saam met Maleisiese organisasies om die grootste opruiming in die geskiedenis van Aardedag aan te bied. Minstens 100-duisend vrywilligers gaan strande en woude skoonmaak en meer as ‘n miljoen bome plant.
Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, gaan intussen die A Re Jwaleng-vergroeningsveldtog by Tshwane-huis bekendstel ter viering van Aardedag. Tydens die Kom ons plant-herdenking sal drieduisend bome regoor die Metro geplant word, en die doel is om binne drie jaar 300-duisend bome te plant. Die veldtog het ten doel om die uitwerking van klimaatsverandering te versag, die koolstof-voetspoor te verklein, die luggehalte te verbeter en stedelike hittespanning te verminder.
# En, die Universiteit Stellenbosch sê hy wil hierdie week bewustheid oor vullisverwydering op kampus skep deur twee afval-stasies op die Rooiplein en by die Ingenieursfakulteit op te rig. Die instelling het verlede jaar op drie van sy kampusse meer as ‘n duisend-ton afval nie na stortingsterreine gestuur nie. Die universiteit wil teen 2028 geen vullis na stortingsterreine stuur nie. Hy sê as deel van sy pogings om ‘n groener toekoms te skep, het hy op al sy kampusse belê in verskeie energie-, water- afval- en bioverskeidenheids-programme.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….